Thursday, January 1, 2009

Prince Albert … Verlede …Kwepers en Granate

- Dawid Rossouw -

Van ons beste stories het waarskynlik saam met die ouer geslag uitgesterf en is saam met hulle begrawe. Tog het goeie stories behoue gebly - hulle moet net afgestof en met nuwe smaak en kleur vertel word.

Wat daar is wat nog nie vertel is nie? Die storie van ons heinings!

Prince Alberters was altyd bekend as selfversorgende mense. Die groot erwe en waterbeurte getuig daarvan. In die “ou dae” is grense aangedui met kweper- of granaatheinings; pragtig groen in die somer, vol kleurspatsels in die bloeiseltyd – en wat ‘n toegevoegde waarde was die eksotiese vrugte nie!

Ryp granate het jy as kind geëet tot jou hande en tande pers gekleur en gevlek was. Granaat-eet is mos ‘n kuns, amper soos “pick-up-sticks”- waar jy geen stokkie mag roer nie. Met granate is die uitdaging om nie ‘n enkele pit te laat val nie. Probeer dit gerus; dit laat jou só konsentreer, jy vergeet sommer van die lewe se alledaagse beslommernisse.

Kwepertyd kon jy skaars wag dat die wollerigheid van die vrugte se skil verdwyn en die geel die vaalgroen kleur begin verdring, want dan, weet jy, is die vrug reg vir eet! Om die vrug sappiger te maak, is dit gewoonlik op ‘n klip of die sementstoep gekap – stukkie vir stukkie al rondom – totdat dit sag en vlesig was. Met jou tande het jy diep in die heerlike vlesigheid ingebyt en die lewe was salig as jy jou pad oopgeëet het tot by die jellie om die pitte. Dit was lekkerder as vandag se gekoopte lekkernye. Deesdae se kwepers het egter nie meer daardie jellie nie…

Kwepers is natuurlik ook ingemaak en later as bykos geëet. Konfyt is gekook… en steeds was daar ‘n oorvloed kwepers en granate. Genoeg om in die solders te bêre. Die vrugte is met stele so agt tot tien duim lank gepluk, en die soldertrap op gedra. Dit is nie op die soldervloer neergesit nie, nee, die stele is ingesteek tussen die dwarslatte wat die dakkappe aanmekaar gehou het en die dekriet van die dak en daar het dit gehang tot diep in die winter. Die kwepers en granate het gesond verouder en die lekker geur daar op die solder is sekerlik iets wat ‘n hele paar Prince Alberters nog met nostalgie kan onthou. Vir my kan geen parfuum ooit so lekker ruik nie.

Sien u wat ek bedoel, dat ons selfversorgend was? Van die veelsydige kweperheinig is ook die wonderlikste medisyne gepluk… Medisyne wat die stoutste kind kon soet maak; die luiste leerder volpunte in ‘n toets kon laat kry! En het dit nie baie plesier verskaf as die latte weggesteek kon word om jou bas te red nie?

Granaat- en kweperheinings het nooit volgens grenspenne gegroei nie. Soms het hulle meer na die noordekant oorgehel as gevolg van die heersende suidewind; soms eerder na die kant van die eienaar wat dit die beste versorg het.

Nou het die kosbare plante verdwyn en die drade wat hulle vervang het, is net gespan, min of meer, daar waar die heinings was. Verstaan u nou hoekom daar dikwels in ons dorp gestry word oor erfgrense?

Kom versag al die streng drade en hoë mure – kom ons bring die granaat en die kweper weer terug!

No comments: