Thursday, January 1, 2009

Zwartberg se nuwe hoof vol entoesiasme



- Denise Ohlson -

"Elke kind gaan steeds gesien en gehoor word,” sê Richard McKnight, nuwe skoolhoof by Hoërskool Zwartberg. “Leerders, ouers en onderwysers gaan gelyk-waardig en verdraagsaam behandel word - en dit is my beleid om dissipline eerder as ‘n opvoedingshulpmiddel te gebruik as vir straf.”

Ricky het saam met sy vrou Ronel en hul twee seuns Dicky en Francois – en Staffie Siebie en Kat – as koshuisouers ingetrek by Kroonhof. Met hul pragtige Kaapse houtmeubels in plek, die wasgoed op die draad en die TV gekoppel, is hulle sonder bogtery gereed vir die lewe in Prince Albert.

Ricky en Ronel het albei aan Stellenbosch gestudeer en het ook saam in Fraserburg en Douglas onderwys gegee – hy Engels en sy Afrikaans en Biblioteekkunde.

In Piketberg was Ricky departements-hoof en ook waarnemende adjunkhoof vir 640 leerlinge van graad 1 tot 12. Ronel het agt jaar lank by die Openbare Biblioteek gewerk.

Hulle was baie gelukkig in Piketberg, waar hulle sommer uit hul huis oor die straat kon stap skool toe. Maar toe die hoofskap in Prince Albert sy kant toe kom, was Ricky gereed om die uitdaging met oortuiging te aanvaar.

Nou is hulle hier, en die twee seuns, in graad 7 en 9, is ingeskryf by Hoërskool Zwartberg. Ronel, self ‘n koshuiskind uit Loxton, glo dat hoe langer jy jou kinders by jou het, hoe beter invloed het jy op hulle.

Ricky sê die skool se 2008 matriek-uitslae was uitmuntend en dat hy verseker die akademiese tradisie sal wil voortsit, maar dat hy ook wil roei met sport. Hy gaan ook probeer sorg dat ouers “versorg en betrek” word.

Hy het ‘n besliste langtermynvisie: Om die skool uit te bou tot ‘n instelling waar geen enkele ouer sy kind sal wil wegstuur na ‘n ander skool nie. Hy het vertroue in die materiaal waarmee hy gaan werk, en glo dat elke leerder sal baat by sy puik span onderwysers se ondervinding.

Hy wil graag begin deur gesprekke te voer met alle rolspelers. Dit is sy eerste prioriteit. Ja, hy voorsien lang ure van een-tot-een gesprekke vir die res van die jaar.

Ons nuwe skoolhoof praat met oortuiging en passie. Hy weet hef-aan lê voor, maar is vasbeslote om mense saam met hom te laat trek om die Zwartbergwa deur die skooldrif te kry. En al weet hy nie veel van boerdery nie, is die skool onder sy hoofskap verseker dat daar hierdie jaar weer ‘n oes op die skool se uielande gaan wees.

Hierdie seun uit Robertson se voete staan sterk en stewig geplant op die Karoo-aarde – en hier wil hy en sy gesin wortel skiet en voortreflike vrugte dra tot voordeel van die skool en die hele gemeenskap.

Zwartberg se 340 leerders - daar is vanjaar 28 graad 1‘s, 10 graad 8‘s en 34 in matriek - en hul ouers kan daarop staatmaak dat die nuwe hoof en sy personeel met pasie en toewyding in hul poste staan.

No comments: