-Debbie Badenhorst-
‘n Museum is mos ‘n gebou vol ou meubels en honderde “goetertjies” wat orals uitgestal staan. Jy stap rond, kyk hoe mense dekades gelede geleef het, jy stap uit, en ry. Reg? Verkeerd!
Wel, ten minste werk dit nie só by die Fransie Pienaar Museum nie!
Besoekers stap deur die museum en begin dan met die vriendelike personeel gesels oor ons pragtige dorpie en die wonderlike klimaat, en dan hèèl toevallig vra hulle of daar enige inligting beskikbaar is oor ‘n oupa of grootjie wat jare gelede die magistraat of winkelier op Prince Albert was. Dadelik begin jy deur boeke en lêers blaai, tot jy iets vind wat ook dié besoeker gelukkig sal maak. Soos ons ouer word, raak dit mos al belangriker om te weet waar jy vandaan kom. Mense kom soek na hul “roots” by die museum.
So stap mnr. Gerhardt Langenhoven ook nou die dag hier in en vra of daar enige Langenhoven afstammelinge op Prince Albert woon. Hy is die kleinseun van C.J. Langenhoven se broer. Gerhardt en sy vrou is besig met ‘n historiese toer deur ons land, op soek na nog inligting oor C.J. Langenhoven.
Ons raak aan die gesels en dit val my by dat Ouma Marie Basson jare gelede vele staaltjies oor C.J. Langenhoven vertel het. C.J. het gereeld op Vyevlei kom kuier sodat hy in rus en vrede kon skryf. Sy geliefkoosde skryf-plek was in die okkerneutboord agter die huis, langs die watervoor.
Hy was versot op moerkoffie en het kort-kort met so ‘n skerp stem na Ouma geroep: “Marie! Koffie!” en dan moes Ouma Marie draf met ‘n halwe blikbekertjie koffie, nie ‘n vol beker nie, want netnou wil hy weer so ‘n lekseltjie hê!
Ek blaai deur “Versamelde Werke, deel 7” en kom op dié gedig van C.J. Langenhoven af. Is dit dalk op Vyevlei geskryf?
Die Onteiening
Dis die derde jaar van droogte en dis vaal in die Karoo;
Uit ‘n wolkelose hemel brand ‘n harde son van bo.
Ek sien blarelose stengels net soos vingers opgesteek
Van die bossies stil en hygend wat om uitkoms staan en smeek
Tot ‘n jammerlose hemel en ‘n son wat skroei van bo.
(.....dan na die reën, vers 5.....)
Ek sien ‘n groene lowerland – is dit die vaal Karoo,
Met blare blink van vettigheid en prag van blomme bo,
Met ooie elk hoogmoedig by ‘n huppelende lam,
Met kruisgrasruigte in die veld en oorvloed in die dam?
Waar dooie kaal woestyne was is lewend-groen Karoo.
Teen die tyd dat Gerhardt Langenhoven vertrek, het ons baie inligting oor die ou dae uit geruil en ons besef dat ons iets in gemeen het: Die Langenhoven - Basson konneksie strek nou oor drie geslagte!
Die Fransie Pienaar Museum lewer graag ‘n diens aan sy gemeenskap en besoekers. Ons is nie net nóg ‘n museum met honderde “goetertjies” nie!
Museumgroete
Wednesday, May 30, 2007
Die Langenhoven - Basson konneksie
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment