Wednesday, May 30, 2007

Hulde aan Ds. Cyril Afrika (November 1959 – April 2007)

- Charles Ewerts -

Wyle Ds. Cyril Afrika was vir die afgelope agtien jaar Leraar van die VGK Gemeente Prince Albert. Hy was vir ons Gemeente en Gemeenskap soos ‘n groot rots van ons Karoo-omgewing. Almal het gedink dat hierdie rots altyd daar sal wees want baie het na daardie rots gegaan vir hulp, berading, leiding, geselskap en self in bors skoonmaak. Baie het meer gevra as wat hy kon gee, maar as Dominee het Cyril Afrika nooit gekla nie.

Hy was ‘n unieke persoon wat al die gawes en talente wat God hom gegee het, tot voordeel van sy Gemeente en Gemeenskap gebruik het.

Hy was ‘n leraar met baie planne en idees, wat dinge op sy unieke manier gedoen het en oor die jare het hierdie planne en idees gestalte gekry. Ds. Afrika se eerste paar jaar as leraar in hierdie gemeente was moeilike jare. Dit was in die tyd waar hy sy leierskap, sy vermoe om mense te beinvloed begin uitleef het in Prince Albert. Tydens hierdie moeilike jare, die jare van apartheid, het hy die Advieskantoor begin.
Die veiligheidspolisie het telkemale sy studeerkamer en pastorie kom deursoek. Ds. Afrika se diep geloof in God en ondersteuning van sy vrou, Jackie, het hom deur gedra.

Barmhartigheid, liefde, geregtigheid en evangelisasie werk het hom baie maal met andere laat verskil, veral op plase tydens sy vroeëre jare van bediening. Hy het selfs hierdie evangelisasie werk buite die land se grense voortgesit.

Ds. Cyril Afrika het sy Kerkorganisasies soos die Sondagskool, Getuienisaksie, Jeug, Vrouediens, Gebedsgroep, Brigade, Christelike Alkoholiste Bond en Worship Team deur die jare gereeld werkswinkels laat bywoon en selfs aangebied om hul vaardig te hou. Om gemeenskapsvlak het sy bydrae geen perke geken nie. Hy het tydens sy tentmakerbediening die Bambino Kleuterskool saam met sy vrou begin. Op Seekoeigat het hy ‘n Koshuis vir meer as 100 leerders laat oprig en dit was ook waar hy sy laaste nagmaaldiens gehad het die Sondag voor sy dood en geskenke aan die kinders uitgedeel het, dit in April maand, asof hy geweet het dat GOD hom sal kom haal.


Hy was die stigter van die Bejaardesorg-sentrum. Vir die ou mense en jeug in ons Gemeente het hy ‘n spesiale plek gehad. Hy het ‘n liefde gehad vir houtwerk en het ook ‘n houtwerkprojek begin. Hy het ook ‘n Begrafnisdienste begin om die behoeftes van die mense te voorsien. Hy het self tydens sy werk by die Prince Albert Hospitaal ‘n groot bydrae gemaak om die Hospitaal na ‘n staatshospitaal te help lei.

Ds. Afrika se planne vir ‘n radiostasie vir die Karoo was in ‘n baie gevorderde stadium. Ds. Afrika se bydrae tot die politiek en sy unieke manier van dinge doen het hom baie maal met sy gemeentelede en andere laat verskil maar sy bydrae het hy gegrond op die Woord van God.

As gemeente sê ons dankie vir God dat Hy Cyril Afrika na Prince Albert gestuur het. Ons sal hom baie mis, maar is bly vir die herinneringe aan so ‘n merkwaardige man. Ons weet dat in Geloof dat Ds. Cyril Afrika is by God vir wie hy gedien het.

Die Gemeente en Pastorie kan Ps. 23 neem om ons te troos. “Die Here is my/ons Herder.” Vaarwel Cyril Afrika, ek glo ons sien mekaar weer.

1 comment:

Anonymous said...

Charles, dankie vir die hulde wat jy bring aan een van Prince Albert se juwele. Hy was gereeld as kwaadstoker gebrandmerk, maar weinig het hom werklik geken.
Sterke aan sy familie en jammer vir die dorp vir die verlies.