Wednesday, May 30, 2007

Samuel se Winkel

- Denise Ohlson -

‘n Paar jaar ná die verkoop van haar suksesvolle Plaasstal besluit Johanna Luttig om saam met haar dogter Madri Rossouw weer ‘n winkel in Prince Albert oop te maak. Na ‘n láng soektog na ‘n geskikte perseel, dink hulle diep en ernstig oor die regte naam ... Oplaas besluit hulle op ‘n familienaam: Samuel Luttig.

Samuel Luttig was ‘n grootboer wat sedert 1830 saam met sy broer Jan op die volgende plase in die distrik geboer het: Varsfontein, Abrahamskraal, Kweekkraal, Syferfontein, Veldmansrivier, Uitkyk, Remhoogte, Kareltjie, Zagariasfontein en Vyevlei.

Toe hy en sy vrou op Prince Albert kom aftree, laat hulle ‘n huis in die hoofstraat bou wat hulle Helmuth noem.

Vandag is hierdie huis (op die hoek van Luttigstraat) ‘n verklaarde Nasionale Gedenkwaardigheid en een van die mooiste gebouesierade in die dorp.

Johanna se seun Samuel is die vyfde geslag Samuel Luttig. Hy boer saam met sy pa Samie op die plaas Drieriviere.

Johanna sê die idee van die winkel het weer eens ontstaan om waarde toe te voeg tot hul plaasprodukte. Pasteie, gebak, gebottel, droëvrugte en kweperlekkers is van hul gewildste aanbiedinge. Madri maak ook pragitge kralewerk, groetekaartjies en spogborde vol geleentheidshappies. En op die plaas kweek Johanna blomme vir ruikers en kranse. Dit is vir haar belangrik dat die verwerking en voorbereiding van die plaasprodukte ook werk skep vir die plaasvroue op Drieriviere.

Dit is Johanna en Madri se doel om die breë publiek van Prince Albert en ook elke toeris te bedien, en hulle is dankbaar vir die ondersteuning wat hulle geniet. Hulle gaan bly poog om net die beste gehalte in hul winkel te hê.

No comments: