Wednesday, May 30, 2007

Lord Oom Piet

- Japie Gouws -

Op die koue Sondagaand van die Dorps- en Olyffees maak ‘n brandende swart stofie die ontvangs-lokaal van die Berg-waterkelder heerlik warm. Die vriendelike Stefaan en Chantal Schoeman, eienaars van Bergwater, speel self gasheer en gasvrou en bederf fliek-gangers met hul wonderlike wyne. Mense met piekniekmandjies, peuselgoed, komberse, kussings, jasse, serpe en mussies bewonder die wonderlike vroeë winter-sonsondergang in die Prince Albert Vallei en kuier heerlik op die stoepe, op die gras en binne die pragtige lokale.

Die tafel is gedek vir die aanbieding van “Lord Oom Piet”. Die belangstelling vir hierdie kultusfilm van Jamie Uys wat dateer uit 1962, oortref almal se verwagtinge. Die stoele raak te min an elke kantoorstoel, al die tuinbankies en naderhand selfs wynkratte, word ingedra om vir almal ‘n sitplekkie te kry. Sommige maak hulle op die vloer tuis met kussings en komberse. Toe die ligte afgesit word, is daar selfs ‘n paar fliekvlooie op die groot konferensie-saal! Baie het al van die fliek gehoor, ‘n paar het dit gesien en van die jongeres weet nie eens van Jamie Uys nie! Maar almal is in afwagting vir dit wat gaan kom.

Vir ‘n uur en ‘n half sit Afrikaans en Engels, jonk en oud, vasgenael en kyk hoekom Jamie Uys as ‘n meester-fliekmaker bekend is. Die storie oor NAT en SAP politiek, die skreeusnaakse situasies, is tipies Suid-Afrikaans. Daar is goeie spel, bekende akteurs uit ‘n vorige eeu, interessante musiekverwerkings van Afrikaanse musiek, puik fotografie en selfs ‘n gasoptreded deur die internasionale sangpaar Webster Booth en Anne Ziegler. Seker een van die bekendste tonele uit die Suid-Afrikaanse movie-wêreld – waar Jamie Uys in sy Skotse rokkie verskyn en sê – “Laat net één donner lag!”, het weer eens die gewenste uitwerking in hierdie storie vol komedie en sosiale lesse. Die film, met sy gelukkige einde as Boer en Brit se kinders op mekaar verlief raak, bring heimwee vir dié rondom vyftig, is interessant en steeds snaaks vir die jongeres ... Die lekker kuier vooraf, die mooie venue, die uitstekende wyn, die gawe fliek – die aand was ‘n reuse sukses! Kom ons maak volgende jaar weer so!

1 comment:

duettists said...

Ek het altyd gedink dat dit in swak smaak was dat Jamie Uys begin om te krap and wriewel voordat die internationale sangpaar, Anne Ziegler en Webster Booth hulle nommer klaar sing.