Thursday, October 30, 2008

Erfenis, Politiek... en Jy

Daar is ‘n noue band tussen ‘n dorp se erfenis en sy ekonomie – en as ‘n mens dit nie verstaan nie, kan erfenis – oor die politieke boeg gegooi – ‘n verdelende faktor word.

In Prince Albert het ons wonderlike oop ruimtes wat ander dorpe ons net kan beny. Besoekers stap deur ons strate en verwonder hulle aan ons geboue en staan verstom voor inwoners se vriendelike gesindheid jeens vreemdelinge…As ons na ons dorp kyk deur die oë van ons besoekers, sal ons dit sóveel meer waardeer.

In perspektief gesien, behoort ons hele gemeenskap dus dankbaar te wees vir ons beduidende dorpserfenis. Ons is geseënd met ‘n indrukwekkende historiese dorpsprofiel – heel anders as in ander dorpe waar die argitektoniese juwele afgebreek is om plek te maak vir nuwe geboue.

In Prince Albert hang werkskepping ten nouste saam met die inisiatief van die meer welgestelde huiseienaars. Ou geboue word met agting en teen ingrypende uitgawe herstel en in stand gehou – en daarvoor word plaaslike vakmanne en werkers in diens geneem.

Verhoogde belastings word op herstelde geboue betaal, en dit stel die munisipaliteit in staat om meer werkers in diens te neem. Stukwerk om armoedeverligting te bewerkstellig, is nog ‘n voordeel.

Werkgeleenthede vir honderde bouers, plaaswerkers, tuiniers en diegene wat by die leivoorstelsel betrokke is, is ook geskep met die bewaring van Prince Albert se ryk landbounalatenskap en sy historiese landboubasis.Saam dra al hierdie faktore by tot vreedsame saambestaan en kos op die tafel… Dit is dus eintlik logies dat ‘n hoë waarde geplaas moet word op ons dorp se erfenis en kulturele hulpbronne.

Ons dorp se ekonomiese hartklop hang nou saam met ‘n lewenskragtige toerismesektor, en:
die erfenis-trekpleister lok Suid-Afrikaanse en internasionale toeriste na Prince Albert;
die gehalte en diens van ons gastehuise (wat staatmaak op honderde plaaslike werkers) dra grootliks by tot die sukses van plaaslike besighede.

Binne die munisipalitiet funksioneer die Erfenis- en Boukomitee – hul werk is om advies te gee oor erfenisbewaring en ontwikkeling. Die munisipaliteit verdien ‘n kompliment vir die befondsing van die Erfenisopname wat tans deur die Prince Albert Kultuurstigting onderneem word.

Onthou, ons erfenis sit vir ons kos op die tafel – dit is belangrik dat ons dit almal insien en verstaan. Waar ‘n dorp saamstaan en sy bates beskerm, groei ‘n sterk en vooruitstrewende gemeenskap.

No comments: