Thursday, October 30, 2008

Kok en Juwelier is ‘n wenspan

- Denise Ohlson -

Vir Anton Maartens, gebore in De Aar en met grootwordjare in Namibië, was die Karoo nog altyd ‘n lekker kuierplek, maar met sy eerste besoek aan Prince Albert ‘n paar maande gelede, het hy net gewéét sy toekoms wag in hierdie pragtige dorpie. Sy lewensbegeerte om ‘n knus restaurant te hê, kon hy hier bewaarheid deur die deure van die geslote Miller’s Restaurant weer wyd oop te gooi en vir mense opwindende en interessante disse voor te sit.

Hy moes net sy lewensgenoot Jacques Maree daar in Centurion gaan oortuig dat die Karoo roep. Maar dit was nie te moeilik nie, want vir die jong juwelier het dit ook tyd geword om selfstandig te begin werk. Sy bedryf het begin vasval in rekenaarontwerp en in Prince Albert sou hy nou weer kon konsentreer op handgemaakte stukke en sy kreatiwiteit uitleef.

Anton se paadjie na Prince Albert strek terug na ‘n BA Drama en ‘n Dansdi-ploma, hoofrolle in Grease, My Fair Lady en agt maande lank op die stel van Joseph and the Amazing Technicolour Dreamcoat. Hy skryf resensies oor kuns, kos en vermaak en sy loopbaan kom in ‘n stroomversnelling met drie spesifieke invloede: Al kon hy op laerskool al ‘n hele Sondagmaal kind-alleen opdis, laat die rolprent Babette’s Feast hom met nuwe oë na kos kyk. Terselfdertyd ontmoet hy ‘n Marokkaan wat hom voorstel aan Franse styl, vreemde kosse en verleidelike smake. Derdens help hy ‘n vriendin om ‘n fiksheidsbedryf te vestig - wat hy later oorkoop. So raak hy betrokke as Nataniël se persoonlike instrukteur. Hulle werk vyf jaar lank saam – en praat sonder ophou oor… kos! Nataniël inspireer hom met sy lewensfilosofie en Anton begin ‘n besigheidsplan optrek vir ‘n restaurant… Hy verkoop sy fiksheidsakademie en koop The Cornish Kettle in Irene.

Gou besef hy die opset is te groot – hy is eerder administrateur en bestuurder as chef - en sy begeerte na ‘n klein restaurant waar hy sy avontuurlus en individualisme kan uitleef, vervul hy nou hier in Prince Albert. Hy het ’n “kleintjie dood” aan alle bestanddele wat uit pakkies, blokkies, bottels en blikke kom. Vir hom is dit ‘n liefdestaak om aftreksel te kook en vars produkte uit te snuffel. Elke bord kos moet vir die eter ‘n “Wow” ervaring wees - en dit maak hom trots as mense foto’s van sy handewerk neem voor hulle begin eet!

Laat maar die patats met malvalekkers en die groenboontjies met skyfiekrummels by die huis – Anton gril letterlik daarvoor! Hy werk geesdriftig aan ‘n voorgereg met tamatieroomys as basis en meng met presisie aan sy begogelende “Karoo Koktails”!

Anton Maartens het gekom om te bly – en saam met hom bly ook Jacques Maree, die juwelier wat nèt so sy juweliersvoorskoot verruil vir sy kelnervoorskoot. Hy kén die spyskaart soos hy sy silwer ken. Praat maar met hierdie begaafde Vrystaatse kêrel wat nie gedink het ‘n klein dorpie gaan sommer weer sy hart steel nie. Maar hier skop hy nou vas en sê dankie aan sy standerd 2 juffrou wat hom so gefassineer en geïnspireer het met al haar juwele: “Sy het letterlik ‘n ring aan elke vinger gehad!” As sy darem nou sy werk kon sien! Elke stuk gestempel as egte silwer, en met sy voorletters as kenteken.

Jacques het drie jaar lank in Engeland Au Pair werk gedoen om geld bymekaar te maak vir sy studie in die ontwerp en vervaardiging van juwele. Met sy diploma in die sakkie, word hy lektor by ‘n klein skool en daarna gaan leer hy by Deonne le Roux hoe die kleinhandel inmekaarsteek. En nou is hy so gelukkig om elke dag weg van die kommersiële wêreld se onbuigbare masjienvoorskrife op sy handvaardigheid te konsentreer en die mooiste silwerware te maak – van oorbelle tot teelepels…

Ja, die kok en die juwelier stem saam: Jy hoef nie ryk te wees om voluit te leef nie.

No comments: