Thursday, October 30, 2008

Landbouskou 'n Treffer

- Bianca Marais -

Prince Albert Landbougenootskap is trots op die skou wat hulle van 10 tot 11 Oktober kon aanbied. Piet Kleyn van die KKK wat die skou geopen het, het bevestig dat dit ‘n skou van gehalte was, en dat dit goed ondersteun. Die skouterrein was baie goed voorberei en het pragtig gelyk. Een aspek wat kommentaar uitgelok het was die besonder hoë gehalte van die diere wat vertoon is. Donderdag was daar ‘n boerbok kursus wat goeie ondersteuning ontvang het. Die Landbousaal was vol stalletjies en buite was daar nog meer, asook nywerheidsuitstallings. Van die beste saal- en boerperde in Suid-Afrika is vertoon en dit was ‘n lus vir die oog om te kon sien.

Die kleintjies het hulle Saterdag gate uit geniet met die koekbakkery. ‘n Hoogtepunt was ook die modeparade van trourokke en professionele ontwerpersrokke, asook rokke van ons voormalige mej. Tiener, Bertha le Roux.

Die bestuur en almal wat gehelp het kan trots wees op hulle werk wat vir die groot sukses van die 2008 skou gesorg het. Die organiseerders het hulle dankbaarheid aan een en elke vertoner en borg, asook die gemeenskap wat die skou ondersteun het, uitgespreek.

Hulle het ook laat weet dat hulle in 2009 nog groter hoogtes sal probreer bereik deur byvoorbeeld die hele gemeenskap van Prince Albert en omgewing aan te moedig om aan die skou deel te neem.

No comments: