Thursday, October 30, 2008

Feestyd in die Fransie Pienaar Museum

Frances Olivier, kleindogter van Fransie Pienaar, stap nou die dag in die museum in en sê sy wil my spreek. Sy verduidelik dat haar moeder, Elize Allers, haar neëntigste verjaarsdag op 17 Oktober vier. Sy dink die museum is die ideale plek om die partytjie te hou.

Ek het volkome saamgestem: Wat ‘n beter plek kan daar wees om tannie Elize se verjaarsdag te vier, as in dié gebou, tussen al die kosbaarhede wat Elize se moeder, Fransie Pienaar, oor soveel jare met liefde en toewyding versamel het!

Vrydagoggend vroeg het ons gou alles reggeskuif en die heerlikste eetgoed in die Bassonkamer uitgepak. Tannie Elize het pragtig gelyk in ‘n sagte pienk pakkie en trots na al haar kinders en kleinkinders gesit en kyk terwyl Das Olivier van die geleentheid gebruik gemaak het om ‘n paar gevleuelde woorde te spreek.

Vriende en familie van heinde en ver het gesellig rondbeweeg en gesmul aan die versnaperinge. Die verjaarsdagkoek wat in die middel van die tafel gestaan het, gebak en versier deur Susan Viljoen, was natuurlik só ‘n ongelooflike kunswerk, dat niemand eers daaraan gedink het dat die koek gesny moet word nie!

Nou was dit tyd om familiefoto’s te neem en almal het die geleentheid gekry om saam met die “prentjiemooi” tannie Elize gekiek te word. Soos alle goeie dinge, het dié spesiale geleentheid ook tot ‘n einde gekom en almal het gehelp om die geskenke en orige eetgoed na die Allers-woning te vervoer.

Van al die personeel en lede van die Fransie Pienaar Museum: “Weer eens, baie geluk tannie Elize! Om op neëntig nog so statig, helder van verstand, en pragtig te wees, moet ‘n mens voorwaar deur die liewe Vader geseën wees.”

Museumgroete
Debbie Badenhorst

No comments: