Thursday, October 30, 2008

Onvergeetlikste Oktoberfees nòg



- Denise Ohlson -

Prince Albert se Landbouskousaal het op 18 Oktober tydens die dorp se sewende Oktoberfees letterlik uit sy nate gebars toe bykans vierhonderd feesgangers uit elke windrigting opgetrek het vir Eisbein en Sauerkraut, vir bier uit die vat en veral, ja veral, vir regte, egte Oempamusiek uit die heel boonste rakke.

Bodo Toelstede, organiseerder van hierdie fees der feeste, het hom heeltemal oortref deur met tientalle balle gelyktydig in die lug, kop te hou om so presies moontlik te probeer bepaal hoeveel Eisbeins om te bestel, gasvrye mense te werf om gratis verblyf te verleen aan die 38 lede van die Duitse Blaasorkes uit Hemslingen, kaartjies te druk en te verkoop, Tombola-pryse op te tower en sy Kieliebeentjie Orkes in te oefen vir die “voorvertoning”!

Ná bykans twee jaar se harde werk en presisie-beplanning, was dit skielik tyd om die musikante op die lughawe in Kaapstad te ontmoet en op ‘n besigtigingstoer te neem: Hulle het vier dae in Bloubergstrand oorgebly en absoluut perfekte weer gehad om met die sweefspoor teen Tafelberg op te gaan, op Kaappunt te staan, Kirstenbosch te beleef, baie suksesvol by die Beierse Polana Restaurant in die Waterfront op te tree, en sommer lekker Suid-Afrikaans te koop.

In Prince Albert is elke lid uitgeplaas by hul gawe gashere – en Saterdagaand kon Bodo die “Blaskapelle Hemslingen“ in hul indrukwekkende maroen uitrustings en ewe indrukwekkende instrumente met gepaste fanfare aankondig.

Die atmosfeer in die Landbousaal was net ongelooflik en die Duitsers het gou geleer dat “Afrikaners is plesierig” nie sommer net nòg ‘n liedjie is nie. Daar is tot laatnag met oorgawe gesing en gedans en opreg “gefees”. Selfs die dramatiese kragonderbreking kon die gees nie demp en daar is voortgespeel onder begeleiding van selfoonliggies, aanstekers en koplampies!

“Koningin Victoria” het weer haar verskyning gemaak om “Prince Albert” se hand te vra, die sestigjarige Christa Bremer het die gepaste passies in haar mooi handgemaakte rok gemaak om as Mej Oktoberfees gekies te word, en ons burgemeester, Magdalena Benjamin, het geskenke en goeie wense uitgeruil met die burgemeester van Hemslingen, Annegret Kregel.

Die lede van die “Blaskapelle” het vyf jaar lank gespaar om hierdie besoek moontlik te maak. En dit was ‘n “oorweldigende erva-ring” sê Bernhard Speer en Herby Röhrs namens die groep. “Ons is totaal oorrompel deur jul wonderklike land. Die natuur, die mense… Hier in Prince Albert is ons oorval deur gasvryheid en het behoorlik ge-smul aan die plaaslike produkte. Dit was ook vir ons ‘n verrykende geleentheid om in die skoolsaal vir die leerders te kon speel. Hul meelewing en spontane reaksie het selfs van ons gehardste manne trane in die oë laat kry.”

Die musikante se verblyf is afgesluit met ‘n ete hy Hotel Swartberg, waar hulle heel aandoenlik “Guten Abend, gut Nacht” saam gesing het. Bodo vergesel hulle vir nog vier dae op ‘n toer na Mosselbaai, Knysna, Keurbooms en die Addo Olifantpark.

Met hierdie sewende Oktoberfees, geborg deur die Duitse Federale Buitelandse Kantoor en die Goethe Instituut, het Bodo nou sy mikpunt bereik om altesaam meer as R500 000.00 tot die skoolfonds te kon bygedra. Sy kommentaar: “Ek bedank almal wat my deur die jare ondersteun en bygestaan het, veral by my vrou Gudrun is ek in die skuld vir haar onfeilbare onderskraging. Nou is ek tevrede – ek het my deel gedoen en ‘n ideaal bereik.”

No comments: