Tuesday, March 31, 2009

50 Ton en ‘n Pofadder

- Ellen Joubert -

Dit is wat die herwinningsprojek sedert verlede Augustus in 18 vragte aan Retain Re-use Recycle in Oudtshoorn gelewer het!

Prince Albert kan met reg trots wees op die herwinningsprojek. In ‘n tydperk van 7 maande is daar net meer as 50 ton herwinbare goedere ingesamel, verpak en weggestuur. ‘n Ton gemengde herwinbares is rofweg gelykstaande aan een kubieke meter in volume. Dit beteken dat die projek ‘n hele 50 kubieke meter spasie in die stortingsterrein gespaar het. Dit is beslis ‘n merkbare bydrae, veral aangesien die stortingsterrein byna vol is.

Die projek se sukses is hoofsaaklik te danke aan die groep mense wat elke dag op die projek werk. Meneer George Vi-sagie met sy span laai op Donderdae die herwinning sakke getrou op en op ander dae hou hulle enige herwinbare materiaal wat hulle teëkom apart vir die projek.

Meneer Josef Delport met Basie Tolken aan sy sy, werk elke week met ‘n span van 4 tydelike werkers wat hulle help om die herwinbare materiaal in te vorder, te sorteer en te verpak. Die tydelike wer-kers word onder andere uit ‘n groep mense aangestel wat nou al ervare sorteerders en verpakkers is.

Die mense met ervaring lei elke week die met geen of minder ervaring op. Op hierdie manier is daar al hoe meer tydelike werkers beskikbaar wat met kundigheid en vaardigheid die projek aanhelp.

Die motivering van hierdie spanne is sommer tasbaar. Waar die projek aanvanklik maar net genoeg materiaal ingesamel het om een maal elke twee weke ‘n vrag weg te stuur, werk die spanne nou so vinnig dat dit eintlik al nodig is om elke week ‘n vrag te laat haal.

Maar daar is ook risiko verbonde aan werk op die projek! Aan die begin van Maart, net mooi met die oplaai van sakke vol herwinbares op die bakkie en sleepwa wat dit na Oudtshoorn vervoer, merk iemand met ‘n uitroep ‘n fris pofadder tussen die sakke op. Die slang het vinnig verdwyn tussen die oorblywende sakke in en daar was geen ander raad as om die sakke een vir een te skuif om te soek na die slang nie.

Elke sak en karton is naderhand weggeskuif en weer teruggepak, maar van pofadder is daar geen teken nie. Iemand merk spottenderwys op dat die slang seker saamgery het Oudtshoorn toe, maar almal dog maar hy het seker stil-stil tussen die bossies in verdwyn. Ons het lekker gelag toe ons hoor dat daar by Retain Reuse Recycle reuse konsternasie was toe die einste pofadder tussen ‘n stapel van ons kartonne ontdek is!

As jy of jou besigheid nog nie deelneem aan die herwinningsprojek nie, kan jy gerus onthou dat dit ‘n maklike manier is om ‘n verskil te maak aan ons eie dorp se vaste afval bestuur en aan die integriteit van die planeet. Sit net op ‘n Donderdag-oggend jou sak vol herwinbare materiaal op die sypaadjie – dis so maklik soos dit!

Die munisipaliteit rapporteer dat die raad die implementering van die beplande terugkoop stelsel goedgekeur het en dat inwoners hulle herwinbares sal kan verkoop aan die projek sodra die munisipaliteit die nodige skale gekoop het. Hou dop vir besonderhede oor hoe hierdie stelsel sal werk.

No comments: