Tuesday, March 31, 2009

Frederick Allers

1/06/1919 - 18/02/2009

- Lydia Barrella -

Vir baie mense in Prince Albert is die naam Frikkie Allers ‘n baie imponerende een. Hy was ‘n prominente figuur wat oral in ons dorp sy bydrae gelewer het. Die Fransie Pienaar Museum is een van die instansies wat sy bestaan te danke het aan die deursettingsvermoë van hierdie lang, intelligente en ywerige man.

As die bobaas kleremaker het hy begin naam maak in Prince Albert en later was hy ‘n gesiene sakeman. Hy het Die Handelshuis, ‘n kruidenierswinkel (waar Lewis Stores vandag is) baie suksesvol bedryf. Vanaf 1966 het hy sewe jaar lank as burgemeester gedien en weer van 1980 - 82 in dié tuig gestaan.

Dit was in hierdie tyd dat oom Frikkie die samewerking van sy dorpsraad verkry het om die ou hospitaalgebou, wat amper gesloop is, te koop en te restoureer met die doel om die Fransie Pienaar Museum daarin te huisves. Fransie Pienaar was oom Frikkie se skoonma en haar versameling is reeds vanaf 1971 in Kerkstraat 16, ‘n huis wat ook aan die munisipaliteit behoort het, uitgestal. Die gebruik van laasgenoemde huis as museum is ook deur hom bewerkstellig.

In 1982, toe Fransie Pienaar se versame-ling na die huidige gebou verskuif is, was hy aan die voorpunt met die stigting van die Vriende van die Museum en hy was ook die eerste voorsitter van hierdie vereniging. Op eie koste het hy verskeie kere Kaapstad toe gereis om met die Provinsiale Museumdiens te onderhandel om ons museum as Plaaslike Museum te laat verklaar. Dít het hy reggekry en op 24 September 1985 het Gene Louw, die Administrateur van Kaapland, toe die museum geproklameer as Plaaslike Museum.

Deur Frikkie Allers se daadkragtige versiendheid is die museum vandag die toe-rismekern van die dorp. Die pragtige ou Victoriaanse gebou is perfek sentraal geleë en hoogs geskik vir die uitstal van Fransie Pienaar se waardevolle en uitgebreide versameling.

Waarlik ‘n skat waarop ons as Prince Alberters trots is.

---------------------

Frederick Allers, is op Prince Albert oorlede in sy 89ste jaar. Hier het hy sy lewe lank gewoon en gewerk. Hy laat sy vrou, Elize, agter na ‘n huwelik van 61 jaar. Sy kinders Derek, Frances en Retha, kleinkinders en agterkleinkind eer hom saam met almal wat die voorreg gehad het om saam met hom ‘n pad te stap.

No comments: