Tuesday, March 31, 2009

‘n Skitteraand! Mnr. en Mej. Prince Primêr word gekies!

-D F van der Ross, Prince Albert Primêr Kulturele Komitee -

Prince Albert Primêr se mini-kermis het op 3 Maart begin met die uitdunne van die Mnr en Mej Prince Albert Primêr-kompetisie. Daar was groot opwinding en ons ouers en kinders het ewe hard gejuig vir die deelnemers. Die beoordeelaars het `n moeilike taak gehad om die finaliste te kies. Hulle was dit eens dat die standaard baie hoog was. Ons modelle het gestraal op die loopplank in hul gesofistikeerde uitrustings. Hulle het hard gewerk om voor te berei vir die aand en hul selfvertroue en waagmoed was te bewonder.

Ons het ook ‘n lekker konsert gehou op 5 Maart. Die kinders was te oulik en die gehoor het dit baie geniet. Die Patchwork Theatre het ons vermaak met Summer Loving en Greased Lightning. Hulle het skaars Greased Lightning klaar gesing toe die vreeslikste donderstorm oor Prince Albert losgebars het! Die saal was in donkerte gedompel en ons moes die konsert staak. Ouers en onderwysers het verskrikte kinders deur die donkerte en in diep vloedwater huis toe gery. Ons het besluit om die res van die mini-kermis uit te stel tot die volgende week omdat sommige van die kinders baie groot geskrik het tydens die storm.

Die kroningsaand is op 12 Maart gehou en dit was voorwaar ‘n skittergeleentheid. Baie geluk aan ons wenners: Mej. PAP Senior- Anolisha Paulse, Eerste Prinses- Benita Magiel, Tweede Prinses- Christolene Waterboer. Mej PAP Junior – Anastacia Miljiet, Eerste Prinses- Kaylin van der Ross, Tweede Prinses- Devenisha Arends. Mnr PAP Senior- Edric Windvogel, Eerste Prins- Corbin Pienaar, Tweede Prins- Eunice Pienaar. Mnr. PAP Junior- Dameitrio Sass, Eerste Prins- Denwill Heins, Tweede Prins – Ashlin Mackay.
Baie, baie dankie aan ons beoordeelaars. Ons waardeer julle harde werk opreg. Sonder u ondersteuning sou die mini-kermis nie ‘n sukses kon gewees het nie. Nogmaals dankie aan Dr Brett Bard, Elise Senekal, Andile Mkabile, Mike Upton, Louisa de Villiers, Rose-Marie Ewerts, Hennie en Rossetta Boshoff, Linda en André Jaquet. Ons het opregte waardering dat u bereid is om nieteenstaande u besige programme steeds gewillig is om vir ons te help.

Die mini-kermis het op Saterdag 14 Maart op ‘n hoë noot geëindig met die sportdag op die Odendaal-sportgronde. Sarah Sass se trompoppies het hul passies met grasie en noukeurigheid uitgevoer. Ons sien uit daarna om hulle weer in die Olyffees optog te sien! Baie dankie ook aan die sport kommitee onder leiding van Mnr Neville Claassen wat gesorg het vir ‘n opwindende dag. Daar was atletiek, netbal en rugby. Baie dankie ook aan die Zwartberg Runners wat die afloswedstryd gereel het.

Dankie ook aan die gemeenskap wat ons ondersteun het. Ons vra om verskoning dat ons die Kroningsaand en die Sportdag moes uitstel, maar u sal verstaan dat die kragonderbreking agv die storm buite ons beheer was. Ons sien uit daarna om volgende jaar weer die mini-kermis te reel!

No comments: