Tuesday, March 31, 2009

Stormwater veroorsaak erg skade




- Denise Ohlson -

Deur die jare het inwoners van Prince Albert gewoond geraak daaraan dat die hoofstraat in ‘n rivier verander sodra daar ‘n ordentlike bui reën val. En niemand kla nie, want almal is net te dankbaar vir die reën.

Maar op 24 Februarie en 5 Maart het twee wolkbreuke veroorsaak dat massas stormwater, modder en gruis Klipstraat oorweldig het, die leivoor in Nuwestraat toegeval het en deur Markstraat gedawer het om in die hoofstraat op te dam teen die verstopte stormwaterafvoerstelsel.

Dramatiese skade is aangerig aan munisipale infrastruktuur en persoonlike bates. By Nuwestraat 24 het die stormwater só opgedam en gemaal in ‘n foutief geboude stormwatersloot, dat dit ‘n totale buitegebou en tuinmuur laat ineenstort het. By Markstraat 37 is die stormwater by die motorhek in en dwarsdeur die huis, en by Oppiehoek in Markstraat het Hester Marais een oomblik nog oor die telefoon gesê alles is onder beheer, maar die volgende oomblik was haar hele huis enkeldiep oorstroom en het die dak ook sommer in ‘n gieter verander. Klipstraat 35 se steenkeerwal is omgekalwer en duisende rande se tuingrond en gruisklip weggespoel. Van Dykstraat 7 is twee keer in ‘n dam verander toe stormwater uit die straat, deur die buurtuin en oor die stoepmuurtjie die huis binnegestroom het. In Kerkstraat het waardevolle historiese ringmure in die slag gebly...

Ook in Noordend het ‘n hele aantal huise oorstroom, en die skoolkonsert, in volle gang in die VGK se saal, het in totale chaos ontaard toe die krag ook nog onderbreek is en kinders nie in die donkerte hul pad huis toe kon vind nie. ‘n Inwoner van Botterblomstraat het aan die Vriend beskryf hoe ‘n rivier water deur haar voordeur en by haar agterdeur uitgestroom het terwyl sy en haar gesin hulpeloos toegekyk het. ‘n Ander gesin se splinternuwe elektriese ware en voorrade kos is uit hul “blikhokkie” weggespoel.

Volgens Dawid Rossouw, waarnemende munisipale bestuurder, het die munisipaliteit se raadgewende ingenieurs, PD Naidoo, hulp aangebied om die vloedskade te bepaal sodat ‘n eis vir beskadigde infrastruktuur by Provinsie ingedien kan word. Die skade is vermoedelik in die omgewing van R2 tot R3 miljoen – wat werk insluit wat die herhaling van soortgelyke skade sal voorkom. Die ondersoek is nog nie afgehandel nie.

Provinsiale owerhede het ‘n onlangse vergadering van senior munisipale beamptes van die hele Wes-Kaap gewaarsku om voorbereidings te tref vir weerpatrone wat al hoe meer gaan wissel. Hulle het aangedui dat as gevolg van klimaatsverandering die Provinsie langer periodes van droogte kan verwag en dat meer en erger stormweer, soos dié wat in Maartmaand gebeur het, te verwagte is.

Omtrent tien jaar gelede is ‘n studie gedoen oor die dorp se stormwaterpro-bleme. Daar is ‘n stutdam gebou by Peredraai (die begin van die Weltevredepad), en randstene is gelê in die westelike deel van die dorp om stormwater weg te voer van laagliggende eiendom. Vervolgens is randstene vanaf Meiringstraat tot verby die BP Garage en ook in Noordend, hoog op die agenda.

Inwoner John Mckenna, kenner in die konstruksiebedryf, het aan die burgemeester voorgestel dat gevangenes in hierdie krisis gebruik word om die strate skoon te vee sodat die teer nie verder verniel nie. Die burgemeester het egter, in die lig van die werkloosheidsituasie, besluit om spanne tydelike werkers te gebruik om die strate te vee. ’n Bedrag van R35 000 is reeds op die opruimingswerk gespandeer.

Volgens Dawid Rossouw is alle strate klaar gevee en is daar slegs herstelwerk wat deur die munisipaliteit se eie publieke werkspan verrig moet word. Met die ter perse gaan van hierdie berig was groot dele van die dorp se strate steeds nie opgeruim nie.

Maar, soos Hester Marais gesê het toe sy so verwese tussen al haar deurweekte aardse besittings op die sypaadjie sit: “Ek sê net dankie vir die Liewe Vader dat hy reën gestuur het en nie vuur nie.”

No comments: