Tuesday, March 31, 2009

Victoria Akademie Bied Individuele Onderrig

- Denise Ohlson -

Volgens Chrisna Smit, voorheen verbonde aan Hoërskool Zwartberg (1998-2002 en weer 2005 -2008) as onderwyser in verskeie leerareas, maar van 2007 slegs Engels, het soveel radikale omwentelinge die afgelope dekade in skole plaasgevind, dat sy tot die slotsom gekom het dat die huidige skolestelsel ruimte geskep het vir private onderrig.

Met ‘n hoofstroomstelsel gerig op die massas en waar individuele aandag onmoontlik is as gevolg van skreiend oorbevolkte klasse, het sy besluit om haar eie loopbaan op te offer en deeglik navorsing gaan doen oor die alternatiewe moontlikhede wat in die mark beskikbaar is. Haar oorwoë keuse het geval op die hoogs aangeskrewe Impak/ Delta Christelike Onderwys stelsel, en met haar eie dogter en nog nege kinders het sy die 2009 akademiese jaar met oortuigde daadkrag begin.

Victoria Akademie bied al die gewone skoolvakke aan en leerders het die keuse om die kursus in Afrikaans of Engels te voltooi terwyl hulle teen hul eie pas werk onder Chrisna se kundige leiding en toegewyde toesig. Sy kan staatmaak op professionele insette van mense soos André Goosen, wat sy gekoöpteer om haar by te staan.

Chrisna sê: “Enigeen wat belangstel in die toekoms van ons jeug, sal besef dat individuele behoeftes, gebreke en talente individuele aandag verg. Die Victoria Akademie bied gespesialiseerde onderrig aan kinders van Gr 1 tot Gr 12, en ek konsentreer op basiese vaardighede wat in die nuwe skolestelsel in die slag gebly het. Vaardighede soos lekker bak en brou sessies, naaldwerk en kreatiewe naaldwerk, kuns en algemene kultuurwaardering, en om ‘n liefde vir eie skepping by leerders te kweek.”

Wat vir haar van groot belang is, is dat haar Akademie kinders in Prince Albert hou wat andersins koshuisgangers in ander dorpe sou word. Sy glo “dat dit ouer en kind die geleentheid bied om nouer bande te smee terwyl goeie plattelandse waardes by die leerder ingeboesem word. Terselfdertyd verloor die dorp en die gemeenskap ook nie die finansiële bydraes wat die ouers kan maak nie.’’

Eersdaags word ‘n opedag gehou en gedurende die Olyffees sal die akademie stalletjies hou waar handwerkstukke en gebak van die leerders te koop aangebied sal word. Op 21 Maart het lede van die akademie aan Words and Music by die St John’s Kerk deelgeneem en het ook tydens Biblioteekweek vir ons senior burgers opgetree.

Chrisna nooi enige persoon wat belangstel in die aktiwiteite van die onderrigsentrum om met haar te skakel by 082 373 2385.

No comments: