Saturday, May 31, 2008

Die Mooiste Babas in die Land

- André Jaquet -

Nog ‘n hoogtepunt van hierdie jaar se Dorps- en Olyffees was die Baba O’lyfie en Mnr en Mej O’lyf kompetisie. Al was dit 'n heerlike oggend, die soort wat 'n mens net in Prince Albert kry, begin ek sweet, my mond word kurkdroog en ek voel heel ongemaklik. Hier sit ek, Sonja Mckenna en Debbie Mooneys as beoordeelaars. Voor ons verskyn daar 'n parade van trotse mammies met hulle pragtige babas. En nou moet ons een van die babatjies uitwys as die heel mooiste!

My eerste reaksie is om so gou moontlik daar weg te kom maar ek is so gebou dat vinnig beweeg en verdwyn net nie moontlik is nie. Uit ervaring weet ek dat 'n plesierige ma blitsvinnig in 'n moelike tannie kan verander as 'n mens twyfel dat HAAR kind die mooiste is. Ons het geen keuse nie: ons moet maar voortgaan.

Debbie, Sonja en ek wou 'n prys aan elkeen van die deelnemers toeken want hulle was almal dierbaar en so mooi aangetrek. Na 'n lang debat is dit die glimlaggie van Jan Stefan Smit wat ons die meeste bekoor het. Kort op sy hakke was Jancke van Eck en Mary Dean wat die eerste prys vir mej Baba O’lyfie gedeel het.

Persoonlik het ek die meeste pret gehad om Mnr en Mej O’lyfie te kies want die optog van deftige paartjies het vir my laat dink dat ek binnekort self oupa gaan word. Na 'n lang gesukkel besluit ons om Charl Venter en Letoney van Sensie as die twee wenners aan te wys. Al is sy nie 'n baba-tjie nie, behoort Chantelle Freysen ook 'n prys te gewen het as beste organiseerder want alles het so vlot verloop.

Daar is geen twyfel dat hierdie kompetisie elke jaar groot byval vind en die borge van die geleentheid moet vir hulle vrygewigheid hartelik bedank word. Hulle is: Pep Stores, Swartberg Slaghuis, Lucky Seven, Mai’s B&B, PA Motors, BP Garage, Maydays, Koggelmander, die Poskantoor, Avroy Shlain, die Toerismekantoor, Studio Chris, Bergwater, Soet Karoo en Pam Wessels.

No comments: