Saturday, May 31, 2008

‘n Towertapyt land in Prince Albert



- Allister Sparks -

Die week na die jaarlikse Dorps- en Olyffees, het Ebrahim Ravat, die bekende handelaar en kenner van Oosterse matte die dorp besoek om ‘n uitstalling van Persiese matte aan te bied. Hy was vergesel van sy seun Ahmed en ander lede van sy uitgebreide familie wat met ‘n yslike Mercedes Benz trok sowat 500 voorbeelde van verskillende matte en tapyte vanaf Pretoria hierheen gebring het.

Dit was die begin van ‘n wonderlike driedaagse ervaring vir die inwoners van Prince Albert waartydens Ebrahim hul ingelei het in die historiese, estetiese en geestelike wonders van hierdie fabelagtige produk, een van die mensdom se mees antieke tuisnywerhede.

Die tapyte is op Vrydag 2 Mei uitgepak in die Kunsgallery, ‘n uiters geskikte ruimte en agtergrond. Die volgende aand het Ebrahim ‘n fassinerende praatjie gelewer aan ‘n waarderende gehoor, gevolg deur ‘n opwindende veiling waar heelparty gelukkige persone ongelooflike winskopies bekom het.

Hy het verduidelik dat Oosterse tapyte in ses kategorieë van uitnemendheid ingedeel word. Die eerste vlakke sluit in matte wat gemaak is in Marokko, Indië, Pakistan en Turkye, terwyl matte in die hoër kategorieë afkomstig is uit die gebied wat hy die Persiese stroom noem, deel van die antieke Persiese Ryk wat insluit die hedendaagse Iran, Afghanistan en die vorige Sowjet Republieke van Uzbekistan en Kazakhstan.

Die heel beste kwaliteit matte is tydens die Pahlavi dinastie gemaak, die tydperk wat in 1979 beïndig is met die afsetting van die Shah Reza Pahlavi, gevolg deur die wat gemaak is tydens die revolusionêre heerskappy van die Ayatollah Khomeni, wat as ietwat minder waardevol geag word.

Die gehoor is nie net betower deur die matte nie, maar ook deur Ebrahim homself.
Hy het nie alleenlik kundige inligting oorgedra nie, maar die gehoor bekoor met sy delikate sjarme en die stories agter die matte, die verskillende stamgebiede en tradisies van herkoms. ‘n Mooi voorstelling van die moeder wat vroeg opstaan, die kinders kosgee, gebede lei en die klein kinders aan die hand vergesel na die mat-raam om hulle die oneindige fyn kuns van matknoop te leer. Tydens so ‘n werksessie verduidelik sy dan die geestelike betekenis van elke motief.

Godsdienstige onderrig saamgeweef in die werk – ‘n proses wat Ebrahim glo ‘n spesiale kwaliteit aan die eindproduk verleen.

Die veiling was groot pret en die gehoor was verstom om te sien dat Ebrahim dit skynbaar geniet om matte ver onder die gewone handelsprys te laat gaan. Maar hy het verduidelik dat as gelowige weet hy dat wat jy saai sal jy maai en dat hy op hierdie manier meer welwillendheid verwerf as deur duur advertensies.

Die volgende dag het hy sy punt bewys – meer matte is van die vloer verkoop as tydens die veiling. Dit was dus ‘n wen-wen geleentheid. Die mense van Prince Albert het ‘n genotvolle aand en winskopies gekry, die Kunsgallery het op sy beste vertoon en goeie publisiteit gekry, Ebrahim het goeie bemarking gedoen en selfs ‘n bietjie profyt gemaak en ten slotte ontvang die Prince Albert Skills Trust ‘n mooi skenking as kommissie op die verkope.

Prince Albert sê “dankie Mnr Ravat, en kom gerus weer kuier!”

No comments: