Saturday, May 31, 2008

Sterreprag oor Prince Albert

- Hans Daehne -

Dit was heerlik vir ons om tydens die Prince Albert Dorps-en Olyffees met `n paar nuwe sterrevriende die wonder van die sterrehemel (tussen die wolke deur ) te kon geniet.

Nou in Junie is dit al weer tyd vir die pragtige Winterkonstellasies soos die reusagtige Skerpioen, die ingewikkelde Boogskutter en Boötes met sy helder rooi reus bokant ons koppe.

Dit is deur en deur die moeite werd om in die koudste tyd van die jaar `n blik in die rigting van die middelpunt van ons galaksie te werp waar die Melkweg op sy breedste is en elke dowwe kol in die mooiste sterrehopie of - newel ontpop deur die lens van `n teleskoop.

Junie het vir my, soos seker vir baie sonskynliewende persone in die suidelike halfrond nog `n spesiale bekoring en dit is die sonstilstand op die 21ste waarna die dae weer begin langer word.

In Mei tot en met die eerste paar dae van Junie is Mercurius net na sononder in die Weste, maar relatief laag oor die horison sigbaar.

Venus bereik op die 9de Junie haar buitekonjunksie wat beteken dat sy dan agter die Son en die verste vanaf dieAarde is naamlik 260 mil. km ( = 1.74 AE ) en daarna na die oostekant van die Son beweeg sodat sy weer `n aandverskyning as aandster sal begin maak vir die res van die jaar.

Die Maan is in sy Nuwe Maan posisie op die 3de Junie en vanaf die 7de tot 9de sal hy saam met Mars, Regulus en Saturn `n aanskoulike groepering vorm wat ook die lyn van die Ekliptika sal aandui. Volmaan gebeur is op 18d Junie.

Mars kan nog vir `n paar uur in die aand gesien word in die sterrebeeld Kreef (daar waar geen helder sterre hierdie konstellasie aandui nie) tot die 10de Junie waarna hy na die Leeu toe oorgaan in rigting na Regulus toe.

Die helder Jupiter, sigbaar vir die hele nag in die sterrebeeld Boogskutter, is op sy terugwaartse beweging in die rigting van die Skerpioen tot September waarna hy weer met sy normale regsombeweging deur die Boogskutter voortgaan om volgende jaar in die sterrebeeld van die Steenbok te beland.
Dit is nou `n goeie geleentheid om hierdie bewegingsafwyking dop te hou omdat dit die relatiewe beweging tussen die planete duidelik demonstreer.

Saturnus het in Mei tot stilstand gekom naby Regulus en beweeg nou weer weg van die hoofster van die Leeu in die rigting van die Maagd en word in die proses al dowwer, maar die interessantheid omtrent Saturnus is dat ons sy ringe in Desember heeltemal van die kant af sal bekyk.

Junie en Julie is gunstige maande om meteoorreëns waar te neem en mens kan op die 5de Junie vanaf 21h00 begin kyk in die rigting van die Skerpioen wanneer min maanskyn die sig van "verskietende sterre" sal belemmer.

Die gereëlde kyk met `n verkyker na die Suide in die omgewing van die Suider-kruis en ander kruise waarborg `n ryk beloning omdat die kruise nou hoog staan en baie mooi voorwerpe huisves.

Hou die sterre in u oë !

No comments: