Saturday, May 31, 2008

Groot Planne vir die Prince Albert Gholfbaan

- Kallie Erasmus -

Prince Albert is ‘n werkende dorp met ‘n lewendige plaaslike gemeenskap en het genadiglik nie net ‘n speelplek vir stedelinge geword nie.

Daar word binnekort begin met ‘n beoogde inisiatief deur Prince Albert Fruits (Edms) Bpk in samewerking met die Prins Albert Gholfklub, en volgens die ontwikkelaars beloof dit om waarde op alle vlakke tot die dorp toe te voeg.

Die projek beoog om die bestaande gholfbaan te verskuif na Volstruisvlei onderkant Burnettstraat (duskant die Dorpsrivier tussen die dorp en Waterkop waar ID Vorster bly) en om dan albei terreine te gebruik om die historiese verdeling tussen die Bruin en Wit dele van die gemeenskap te oorbrug.

Die verskuifde gholfbaan sal steeds ‘n eiesoortige Karoo-baan wees met die verskil dat rioolwater gebruik kan word om ten minste die bowwe en setperke maar ook hopelik landingsareas op elk van die 9 putjies te vergroen. ‘n Behoorlike klubhuis en sportgeriewe sal by die nuwe baan opgerig word.

Die bestaande boerderyaktiwiteite op die eiendom sal voortgesit word en wingerde is reeds aangeplant om ook Port te maak. Die gedagte is om ‘n boetiek Portkelder te vestig wat saam met die ander wynmakerye in die omgewing, van Prince Albert ook ‘n wynbestemming te kan help maak.

Aansoek sal gedoen word om ‘n nuwe woonbuurt tussen die wingerde en om die gholfbaan te vestig om behuisingsopsies te bied sonder dat die historiese kern van die dorp aan verdere verdigtingsdruk blootgestel hoef te word. Ongeveer 150 erwe (waarskynlik verdeel in drie groepe en moontlik oor fases vrygestel) word voorgestel.

Hoewel die ontwikkeling nie vanaf die dorpskern sigbaar sal wees nie word groot moeite gedoen om te verseker dat dit inpas by die karakter van die dorp. Kurt Buss, ‘n bekende argitek met nou bande met Prince Albert is aangestel om ‘n reeks ontwerpe te ontwikkel en voornemende kopers sal ‘n erf saam met die huis wat daarop gebou moet word koop.

Die ou gholfbaanterrein sal dan gebruik kan word om ‘n koppelwoonbuurt te vestig wat ons woonbuurte ruimtelik met mekaar verbind en wat die verdeling van die dorp in twee helftes sal beëindig.

Die projek moet eers aan ‘n volledige omgewingsimpakstudie onderwerp word om te verseker dat dit haalbaar is. Hierdie proses behels openbare deelname in elke fase en inligting sal deurlopend beskikbaar gestel word om te verseker dat almal heeltyd weet wat voorgestel word. Sharples Environmental van George is aangestel om hierdie proses te onderneem en hulle behoort eersdaag die eerste kennisgewings hieroor te kan uitreik.

Kallie Erasmus, ‘n plaaslike omgewingsregskundige, is aangestel om die projek te help koördineer en sal op Dinsdag 10 Junie 2008 ‘n inligtingsvergadering hou – die tyd en plek sal nader aan die datum aangekondig word.

No comments: