Saturday, May 31, 2008

Fanus Smit 1952 - 2008

- Chrisna Smit -

Dit is met hartseer dat die gemeenskap van Prins Albert afskeid neem van Fanus Smit, wat Maandag 12 Mei 2008 in die ouderdom van 56 jaar oorlede is.

Fanus het as 5-jarige saam met sy ouers, Stephanus en Hester Smit, op Prins Albert kom woon. Sy ouers het onder meer die bakery besit en sy pa was ‘n bekende bouer en sakeman op die dorp.

Fanus het sy skoolloopbaan aan Hoërskool Zwartberg voltooi, onder die bekwame leiding van onderwysers soos Alta Rossouw en Tiekie Steyn.

Hy het ‘n groot deel van sy lewe as boer op die plaas deurgebring en het in 1985 ‘n winkel op die dorp oopgemaak. Vandaar het sy smousery met groente en vrugte begin, wat hom welbekend in Leeu-Gamka, Klaarstroom en selfs Willowmore gemaak het.

Sy klein bakkie, volgelaai met groente en vrugte, was ‘n welbekende gesig in die strate van Prins Albert. Daar is baie Prins Alberters wat die lekker appels uit die Langkloof gaan mis.

Ons innige meegevoel met Ouma Hester, Lizzie, Stephan, Johann en Lizél met hul verlies. Ons bid dat die Here hulle sal vertroos en die krag sal gee om elke dag aan te gaan.

Totsiens Fanus, mag jy sag rus in God se hand.

No comments: