Saturday, May 31, 2008

PAAK se suksesverhaal

Die Prince Albert Advieskantoor, alom bekend as PAAK, is ‘n goed georganiseerde nie-winsgewende organisasie wat werk verskaf aan 45 mense. Hulle doen uitstekende werk in die verskillende gemeenskappe en hoop om binnekort meer as ‘n honderd mense in diens te hê.

Vir die 2008/9 boekjaar – wat strek van 1 April 2008 tot 31 Maart 2009 – het die kantoor groot suksesse behaal deur befondsingsooreenkomste ten bedrae van R1 713 672 te sluit.

Die Departement van Gesondheid het R504 000 bewillig vir Tuisverpleging, Opkomende Boere se hande gaan gesterk word met R817 672 deur die Nasionale Ontwikkelingsagentskap.

Die Sentraal Karoo Distriksmunisipaliteit het R130 000 elk toegeken aan die MSAT van Prince Albert en Leeu-Gamka, die Verbruikerslessenaar is deur die Verbruikersbeskermer befonds met R84 000 en die Hulptrust vir Sosiale Verandering het R48 000 bygedra tot die Vigsaktiveringsterrein.

Afgesien van hierdie projekte, wag die kantoor ook nog op antwoorde vanaf die Lotto en die Departement van Sosiale Ontwikkeling en die Stigting vir Gelyke Geleenthede. PAAK verleen ook hulp aan ander gemeenskappe om aansoek te doen vir befondsing.

Afgesien van die buite-befondsing, werk PAAK se Befondsingskommitee hard om
fondse intern te sterk. Op 14 Maart het hulle ‘n hoogs suksesvolle visbraai aangebied en die onbaatsugtige ondersteuning van die gemeenskap was besonder bemoedigend.

Tans is hulle besig om lootjies teen R20 elk te verkoop en die gemeenskap word weer gevra vir hulle ondersteuning. Vele pryse is te wen!

Die kantoor se finansiële state gaan aan die einde van April na Price Waterhouse Coopers in George vir ouditering en behoort teen einde Junie gereed te wees.

Die Algemene Jaarvergadering sal gedurende Julie gehou word, waartydens ‘n nuwe komitee gekies gaan word om op die suksesstorie voort te bou.

Die presiese datum van die Algemene Jaarvergadering sal geadverteer en in die Vriend aangekondig word en daar sal voortaan ook gereeld via die Vriend met die gemeenskap gekommunikeeer word.

PAAK se komitee glo dat dit ons Hemelse Vader is wat die gemeenskap van Prince Albert so seën. Die gesindheid en samewerking van werkgewers in die gemeenskap verbeter net by die dag en daarvoor is die komitee baie dankbaar, want probleme word net soveel makliker opgelos as daar goeie trou en wedersydse samewerking is.

Goliath Lottering
Voorsitter

No comments: