Thursday, April 30, 2009

Oom Pat vier nog ‘n mylpaal

- Lydia Barrella -

Op 17 Maart het Pat Marincowitz sy 85ste verjaarsdag gevier. Hierdie mylpaal in sy lewe het hy die daaropvolgende Saterdag gevier saam met familie en vriende van wie sommige van ver gekom het. By Die Ou Kelder op die plaas Drie Riviere het Johanna Luttig die heerlikste tradisionele ete voorgesit vir hierdie spesiale geleentheid.

Uit nuuskierigheid vra ek vir Pat of Patrick ‘n familienaam is. Hy sê toe nee, en vertel dat sy moeder vir die bevalling Outdshoorn toe is waar sy in ‘n losieshuis tuisgegaan het. Daar het sy bevriend geraak met ‘n bejaarde Ier en toe haar seuntjie op St Patrick’s dag gebore is, het die ou man haar gevra om die kind so te noem. Nou dra hy die naam Charles Patrick!

Pat het op die plaas Rondawel groot geword waar sy ouers geboer het. Later het hy op Klein Sleutelfontein geboer totdat hy agt jaar gelede op die dorp kom woon het. Hier hou hy hom self besig met sy groot belangstelling en liefde van die Karooveld en plante. Hierdie bellangstelling het hy as kind by sy pa gekry. In sy eie klip veldtuin doen hy verdere navorsing oor die bestuiwing van Karooplante.

No comments: