Thursday, April 30, 2009

Waar is jy 2010?

Nee, dit het niks te doen met die sokkerwêreldbeker wat om die draai is nie. Waar is jy 2010 is seker die kommerwekkendste vraag wat aan ons matrieks se gedagtes knaag en ons onderwysers het besluit om ‘n naweek daarvan te maak.

Die naweek van 27-29 Maart het 21 van ons 34 matrieks op die “Matric Breakaway” gegaan wat seker ons laaste blaaskans was voor ons belangrike eksamen aan die einde van die jaar.

Die Vrydag na middagete by Prickly Pear het ons vertrek na wat ons gedink het ‘n boskamp was, maar toe word ons verras met Bushman’s Valley se luukse akkommodasie eenhede. Na ‘n vriendelike verwelkoming deur ons fasiliteerders het ons die kampterrein verken en een van die staproetes gaan stap.

Die aand het ons terug dorp toe gekom vir ons eerste konferensie ervaring by die Swartberg Hotel. Ons was toegespreek deur plaaslike mense van verskillende beroepe om vir ons ‘n idée te gee van wat hulle doen en ons belangstelling te prikkel.

Die belangrikste boodskap wat die sprekers ons meegedeel het is dat jy jou werk moet geniet en ‘n passie daarvoor moet hê. Daarna het ons onder die sterre, lanks die kampvuur hierdie onderwerp hervat.

Die Saterdag oggend was dit die wegbreek uit Prince Albert gedeelte van ons kamp. Ons het ons Biologie onderwyser by haar huis in Klaastroom gaan besoek vir ontbyt en toe vertrek na Heroldsbaai waar ons die res van die oggend deurgebring het. Ons het ons tweede staproete lanks die see gaan stap en die res van die dag in die seewater deurgebring. Daarna het ons die Garden Route Mall ingevaar om die vouchers wat aan ons gegee is te gaan blaas.

Terug by die kampterrein het ons weer ‘n rustige aand om die kampvuur gespandeer. Vir aandete het party van ons, ons eerste ervaring van pap en wors gehad en die res het maar vir die brood en slaai gemik. Doodmoeg gaan slaap en Sondag moeg opgestaan het ons teruggekeer huistoe.

Namens almal wil ek ‘n baie groot dankie sê aan die mense wat dit naweek vir ons moontlik gemaak het. Dankie aan ons onderwysers wat die toer beplan het, dankie aan die sprekers en dankie aan ons borge. ‘n Spesiale dank aan Mnr. Ian Uys van Bushman’s Valley vir die wonderlike fasiliteit wat hy aan ons beskikbaar gestel het.

Julle almal het definitief ons matriekjaar vir ons spesiaal gemaak!

- Nina Vermeulen, Grd 12 -

No comments: