Thursday, April 30, 2009

Unieke Kunshuis oop vir Feesbesoek

- Denise Ohlson -

Katjiepiering ... Gesiggie... Trapsuutjies... Duiwelsdrek... Bliksem... “My moedertaal,” sê Hennie Boshoff, gerespekteerde internasionale kunskonsultant, “is die grootste bonus wat ek kom terugvind het in die land van my geboorte ná bykans veertig jaar in die buiteland.”

In die sestigerjare het hy sy geboortedorp Durban met sy “net te eng” gemeenskap “ontvlug” om hom te vestig in die vrye, taboelose Londen. Hier leef hy hom spoedig in die kunswêreld uit en maak vriende met geesgenote soos Mick Jagger en Sting. Tien jaar later vertoef hy in die kreatiewe en spirituele Indië waar hy twee boeke skryf – ‘n reisgids en ‘n kinderboek.

Die Franse platteland is sy volgende tuiste. In die Middeleeuse dorpie Carcassonne vestig hy die Azazel Instituut met fondse van ‘n Amerikaanse filantroop: ‘n Kunsprojek sonder winsbejag waar hy sy eie en ander kunstenaars se werk borg en promoveer.

In die vroeë negentigerjare skuif hy die Instituut na Japan, oorbewus van die vloedgolf Suid-Afrikaners wat wêreldwyd terugkeer na hul vaderland... Uiteindelik swig hy ook voor die dwingende roepstem – en in 2003 kom vestig hy hom in Umhlanga. Hier skep hy Blou Piet: Sy kunstuiste wat elke konvensie uitdaag en vyf jaar neem om te voltooi. Die huis is deurspek met motiewe van die Afrikaanse Tarotkaarte - wat Hennie ontwerp en skep saam met sy vrou, die kunstenaar Rossetta Woolf.

In KZN werk Hennie geïnspireerd met plaaslike talent, en afgesien van tegniek, leer hy sy studente ook webontwerp en hoe om hulself te bemark. Hy help ook twee kunstenaars wat as Nivea se Kunstenaar van die Jaar benoem word, om die eerste Swart Ekonomiese Bemagtigings-maatskappy in Suid-Afrika te begin. Vulindlela Art and Design is vernoem na hul mentor, en Hennie is trots daarop dat hy gesien word as “die een wat deure oopmaak”. Die maatskappy floreer en sal belangrike kunsinstallasies doen vir Sokker 2010.

En nou is Hennie Boshoff vier maande lank al 'n inwoner van Prince Albert, ‘n dorp wat hy “oop” vind en waar hy hom reeds goed tuis voel. In Villa Kruger leef hy en Rossetta weer hul skeppende kreatiwiteit uit en merk dat mense omkyk-omkyk by die naambord en reuse tuinbeelde verbyry. Hul mikpunt is om weer ‘n kunshuis te skep. Maar eers wil hy sy wedervaringe te boek stel ... en tussendeur betrokke raak by die dorp se talentvolle kinders - soos by die KKNK in Oudts-hoorn, toe hy die magiese installasie Die Eierpaleis met die Azazel Instituut se fonsde opgerig het.

As kind van sewe jaar het Hennie al sy eerste kunstoekenning gekry - die sertifikaat met die kenmerkende tragies/komiese maskers het hom eindeloos gefassineer. Vandag nog is dit ‘n deurlopende tema in sy werk. Dualiteit en teenoorgesteldes bly hom boei: Hemel/hel, manlik/vroulik, geweld/teerheid, swart/wit, goed/kwaad ...

Al is Hennie Boshoff ingestel op ‘n bykans hermietese leefwyse, gaan hy Villa Kruger se deure en tuin oopstel vir ‘n eksklusiewe kunservaring tydens die Olyffees: ‘n Begeleide toer deur huis en tuin teen sonsonder.

Verwag geen gewone kunsuitstalling nie. Verwag ‘n teatrale “happening” wat jou tastend oor visuele drumpels gaan laat tree met begeleiding van klank en reuk ... Hennie sal jou met nuwe oë laat kyk; met nuwe denke laat dink.

Die tentoonstelling is beperk tot 35 mense, en kaartjies is beskikbaar by die Toerismekantoor teen R30 per persoon, wat ‘n glas Bergwaterwyn sal insluit. Sorg dat jy by Villa Kruger is op Saterdag 2 Mei, 5.30 - 7.30. Mis dit nie!

Fondse sal aangewend word vir ‘n biblioteekprojek by Prince Albert Primêr.

Meer inligting: Denise – 0828261326 of Linda – 0732133797.

No comments: