Saturday, May 30, 2009

Kaap na PA met ‘n ‘Scooter'

- Hennie du Plessis -

Die 74 jarige Dries Rossouw van Stellenbosch het vanjaar vir die 2de keer met sy geel Jonway ‘scooter’ die reis na die KKNK aangepak en na ‘n 3-dae besoek aan Prince Albert, sy geboortedorp, weer na Stellenbosch vertrek. In 2007 het hy ook oor die Swartbergpas gereis. Hy sê teen 80 km/u is daar net soveel meer tyd vir waarneming van jou omgewing. Hy is ‘n briljante ‘ingenieur’ sonder die teoretiese kwalifikasies en was o.a. die laaste 39 jaar voor aftrede werksaam in onderskeidelik die fisika sowel as die siviele departemente van die Ingenieurs Fakulteit op Stellenbosch. Wanneer nodig is hy nog steeds by die siviele departement asook by die WNNR behulpsaam.

Sy ouerhuis was by Kerkstraat 58 – vandag se Saxe-Coburg Lodge – vanaf 1938 tot Junie 1946 toe hul na Stellenbosch verhuis het. Sy pa, Hennie, wie se ouers ook in die distrik gebly het, was transportryer tussen PA en Mosselbaai en ook na die ‘binne’-Karoo met ‘n 3 ton Fordlorrie waarop 5 ton vrag gelaai was. Die vrag was hoofsaaklik petrol en ook groente vanaf plase in die omgewing van Eight Bells.(Mosselbaai) Wanneer hy daar aangekom het is per mond geroep en verder aangegee: Hennie is hie-e-er…! Hennie is hie-e-er…! En natuurlik was die rit altyd oor die Swartbergpas.

Daardie jare was daar nog nie ‘n hospitaal nie. Sy ma, Gerty wat as jongmeisie skoolgehou het, het blyplek verskaf aan arm mense en mense vanaf die plase wat die dokter besoek het. Nadat Dr van Wyk die pasiënte ondersoek het, het Suster Mallot dan na die pasiënte omgesien. Vele babas het ook by die adres die eerste lewenslig aanskou.

Stil rolprente is daardie jare in die Van Riebeecksaal vertoon. In 1944/45 is die eerste rolprente met klank vertoon en almal het “Talkies” gaan kyk.

Die middeldeel van vandag se Saxe-Coburg was daardie jare bekend as die ‘Dormitry’. Hennie Rossouw, wat knap was met houtwerk, het weefstoele gemaak en die dorp se vrouens wat geweef het, het daar in die ‘dormitry’ kom weef. In die linkerdeel van die huis het Laura Combrinck gebly. Sy het ook in die distrik skoolgehou.

No comments: