Saturday, May 30, 2009

Prince Albert Primêr geniet die Olyffees!

- Linda Fodor -

Vroeg op 1 Mei het die opgewonde leerders van Prince Albert Primêr voor die skool bymekaar gekom om reg te maak vir die Olyffees optog. Heel voor het die pragtige trompoppies onder leiding van Sara Sass geloop. Narzeem Delport, die voorlopertjie het grasieeus die pas aangegee. Na hulle het die skaak en sportspanne gestap, terwyl die tweelinge en Mnr en Mej PAP heel laaste in die splinternuwe bus gevolg het.

Na die roete deur die dorp waar hulle deur die mense toegejuig is, het die tweelinge by die verhoog afgeklim. Daar was 12 pare tweelinge en selfs ‘n drieling van Prince Albert Primêr en ook 3 pare tweelinge wat besoekers was wat aan die Tweelingkompetisie deelgeneem het.

Die beoordeelaars het ‘n baie moeilike taak gehad! Mej. Rose-Marie Ewerts, Victor Mhlongo en Felicity Berold het saamgestem dat Charmoney en Charmonita Coetzee en Nadia en Nadine Jansen almal die eerste prys moes kry vir die tweelinge wat die meeste na mekaar lyk. Christopher en Wilfred Paulse het die tweede prys gekry. Die eerste prys vir die tweeling wat die minste na mekaar lyk het aan Fernando en Felicia Nimmerhout gegaan. Amalinda en Elise Aspeling van George het die tweede prys verower. Al die deelnemers het ‘n boeksakkie met geskenkies binne in ontvang. Die wenners het almal gaan uiteet by Koggelmander of Lazy Lizard. Baie dankie aan Kallie Erasmus en die span van Lazy Lizard vir jul vrygewigheid.

Prince Albert Primêr het ook ‘n stalletjie gehad waar ons die heelikste breyani verkoop het. Baie dankie aan Hanna Hesqua, Deel Windvogel en Elizabeth Windvogel wat so hard gewerk het om dit voor te berei.

Om die fees af te sluit het Hennie en Rossetta Boshoff hul huis aan die publiek oop gestel vir ‘n kunsaand. Daar was slegs 41 kaartjies beskikbaar gestel en dit was gou opgeraap deur nuuskierige Prince Alberters en besoekers wat nie 'n oomblik langer kon wag om te sien wat nog te siene is by Villa Kruger nie! Baie dankie aan Linda Jaquet en Denise Ohlson wat al die reëlings getref het en die wyn voorsien het. Ook baie dankie aan Hennie en Rossetta vir al hul moeite en die donasie van die toegangsgeld aan Prince Albert Primêr se biblioteek.

No comments: