Saturday, May 30, 2009

Studeer is haar stokperdjie

- Denise Ohlson -

Lettie Breytenbach het pas, net ná haar 73ste verjaarsdag, nòg ‘n mylpaal in haar lewe bereik toe die graad BA Mens- en Sosiale Studies cum laude aan haar toegeken is deur Unisa. Haar spesialitietsveld was religieë, wêreldbeskouings en etiek van die samelewing.

Lettie se uitmuntende akademiese loopbaan het begin by die Paarl Carinus Kollege waar sy as verpleegster opgelei is. Sy begin werk op 1 Mei 1955 in die Paarl Hospitaal, daarna volg die Montague Hospitaal en later die die Plaaslike Owerheid - waar sy leiding neem in die veld van tering en gesinsbeplanning. Gedurende die sestigerjare organiseer sy die eerste plattelandse mobiele klinieke en in 1978 verwerf sy haar BA Cur.

Nou behoorlik geïnspireer, pak en slaag sy tegelykertyd Honneurs in Gemeenskapsgesondheid en Honneurs in Verplegingadministrasie. Haar volgende prestasie is die ekstra mobiele klinieke wat sy vir die Munisipaliteit van Mosselbaai tot stand bring toe Mossgas die dorp uit sy nate laat beur.

Sy identifiseer knelpunte, doen navorsing, maak opnames en skryf programme vir primêre gesondheid terwyl haar studies nie agterbly nie. In 1995 behaal sy M Cur deur UPE en daarna begin sy klas gee in gemeenskapsgesondeid by UPE se gedesentraliseerde kampus op George.

Twee jaar later tree sy af, maar dis nie lank nie of Link Apteke vra haar om Moeder en Kind Klinieke in Mosselbaai te behartig. Tussendeur doen sy ’n gevorderde kursus vir verpleegsters in Farmakologie. Sewe jaar later tree sy vir die tweede keer af.

Saam met haar man Gawie kom bly sy in 2005 op Prince Albert – oorgehaal vir die rustige lewe van huishou en “skilder” met blomme. Maar nou is sy al weer ‘n hele paar jaar lank werksaam by Huis Kweekvallei, waar sy onskatbare insette lewer in die versorging van bejaardes.

Ja, hierdie ma van drie en ouma van sewe is ook lief vir bak en brou en brei, maar sy dink soms aan haar doktorsgraad - al wonder sy of sy nie al hoe meer van al hoe minder leer nie...

No comments: