Tuesday, March 30, 2010

Gemeenskapsfees ‘n groot sukses



- Henriette Liebenberg -

Prince Albert se eerste Gemeenskapsfees op 5 en 6 Maart was ‘n groot sukses. Die fees is deur die Munisipaliteit geïnisieer om plaaslike ekonomiese ontwikkeling aan te moedig, die gemeenskap bymekaar te kry en om die Burgemeester se Beursfonds vir behoeftige kinders ‘n hupstoot te gee.

Die fokuspunt van die fees, wat by die Odendaal-sportgronde gehou is, was die optog en optrede van die JazzArt Dans-teater. Die legende van die Karoo Watermeid is deur musiek en dans uitgebeeld. Plaaslike kinders van Prince Albert Primêr en Hoërskool Zwartberg is betrek in die optrede. ‘n Jong man in die gehoor het atmosfeer by die fees so opgesom: “Kyk net al hierdie mense! Dis nie net ‘n ‘Coloured’ fees nie. Dis rêrig ‘n gemeenskapfees!”

JazzArt is in Kaapstad gebasseer en is die oudste kontemporêre dansgeselskap in die land. JazzArt se Gordon Andries sê die potensiaal in die dorp is ongelooflik en dat ‘n jongeling volgende jaar gekies gaan word om drie jaar lank opleiding te ontvang. Geen dansagtergrond is nodig nie. Gordon sê JazzArt sal volgende jaar Prince Albert gereeld besoek om danswerkswinkels te hou en dat daar dalk ‘n samewerkingsooreenskoms met die Munisipaliteit gaan wees.

Edwin September, die Munisipaliteit se Gemeenskapsdienste bestuurder, sê ter oordeel aan die Idols- en talentkompetisies is daar heelwat on-ontginde talent in die dorp en dat JazzArt ook daar ‘n rol kan speel. Hy sê daar word gehoop om in samewerking met Die Burger aanstaande jaar ‘n baie bekende kunstenaar by die Gemeenskapsfees te laat optree.

Ander hoogtepunte van die fees was die stalletjies wat op een na almal plaaslik was, die Miss Gay-kompetisie (ja, ‘n “drag queen” kompetisie in Prince Albert waar omtrent gepronk is!) kindervermaak, musiekoptredes deur onder meer SlamJam Music Factory en die kies van Mnr en Mej Gemeenskapsfees. Daar was ook ‘n pretdraf, veteraanmotors, die VGK se blaasorkes, ‘n potjiekoskompetisie en stoepstories deur die stamhoof van die Griekwa Khoi, Poem Mooney, en André Boesak.

Tandekry-probleme was daar wel. Die tydskedule is nie altyd gevolg nie en daar was nie regtig skadu en sitplek vir diegene wat nie lus was vir die biertent nie. September sê ook geen drank gaan volgende keer buite die biertent toegelaat word nie.

Almal met wie die Vriend gepraat het, sê die fees was baie lekker en dat daar beslis volgende jaar weer een moet wees. Kinders veral was gaande oor JazzArt, die springkasteel, die Rodeo-bul en die waterglybaan.

September het dit benadruk dat die Gemeenskapsfees en die Olyffees uiteenlopend van aard is en dat die een nie die ander gaan vervang nie. Hy sê die Munisipaliteit het binne die begro-ting vir die fees gebly. Die geld is onder meer gebruik vir die vervoer en verblyf van mense en kunstenaars van Klaarstroom en Leeu-Gamka af.

Met verwysing na die Beursfonds, het September gesê die inkomste wat daarvoor verkry is uit die stalletjies, kindervermaak en tien persent van die biertent-verkope moet nog bepaal word. Volgens die Munisipale Bestuurder is 12 aansoeke vir beurse tot dusver ontvang, waarvan tien voorlopig goed-gekeur is. Sy sê suksesvolle kandidate sal kontrakte sluit met die Munisipaliteit om die getal jare waarvoor daar geldelike steun was, terug te werk.

No comments: