Tuesday, March 30, 2010

Prince Albert Groentetuin Projek kry skadu bome

Op Vrydag, 19 Maart, is die eerste koeltebome by die Prince Albert Groentetuin-projek geplant. Hierdie tuin, wat ’n oppervlak van 1 ha beslaan, is in tien tuine opgedeel, en word huidiglik deur sewe persone bestuur.
Dis ’n projek wat deur die Wes-Kaapse Departement van Landbou, Sentrale Karoo Distrikte, gefinansier word. Die Departement verskaf die toerusting en sade, en werkswinkels rakende die kweek van groente en tuinbestuur gaan aan die tuin-eienaars gebied word.

Dis ’n opwindende projek en een waarvan die sukses verreikende gevolge kan hê. Die tuin sal groente soos spinasie, wortels, kool en aartappels lewer, wat gebruik kan word om die eienaars en hul gesinne te voed, óf om ’n inkomste te lewer deurdat dit op markte verkoop kan word.

Die tuin-eienaars sê hul drome is groot, en hul vertrou op die Man van Bo. Hopelik sal harde werk hiér groente lewer, en sal die sukses van hierdie projek ander instansies motiveer om soortgelyke projekte te finansier.

Die ses koeltebome, drie Acacia karroo (Soetdoring) en drie Rhus pendulina (Witkaree) is deur Renu-karoo Veld Restoration cc geborg, wat hierdie bome en ander inheemse plante te koop aanbied. Die skenking is gereël deur Mnr Jan Johannes, distrikshoof vir die bogenoemde Departement.

Willem Matthee
(NMMU Natuurbewaring student by Renu-Karoo Veld Restoration cc)

No comments: