Tuesday, March 30, 2010

Lizandro, ons wonderseun

- Phillida April -

Die leerders van Juf Phillida April se graad 1 klas by Prince Albert Primêr was baie bly om die begin van die jaar ‘n nuwe maatjie te kry. Lizandro Lekay is inderdaad ‘n baie spesiale maatjie wat dit geniet om elke dag skool toe te kom.

Sy moeder Marianne Lekay stoot hom elke oggend in sy rolstoel skool toe. Hy is gebore met Spina bifida wat beteken dat met geboorte, ‘n deel van sy rugstring ontbloot was. is dadelik na geboorte toegemaak tydens ‘n baie delikate operasie.

Ongelukkig het dit veroorsaak dat Lizandro nie kan loop nie. Hy sal vir die res van sy lewe van ‘n rolstoel gebruik moet maak. Hy is egter ‘n intelligente mannetjie en geniet sy skoolwerk en pas goed aan. Die Rooikruis Hospitaal in Kaapstad het onlangs geld geskenk sodat Lizandro al sy maatjies by die skool met koek en koeldrank kon trakteer.
Die rede vir die feesviering was dat Lizandro die enigste oorlewende kind is uit ‘n groep kinders wat met dié kondisie gebore is.

Die toegewyde sorg van sy moeder, wat skool toe kom om sy doeke om te ruil en alles vir hom doen, is definitief een van die redes dat hy so mooi vorder.

Hy word op 29 Julie 8 jaar oud. Sy moeder ontvang nie tans staatsondersteuning nie en as gevolg van die feit dat sy Lizandro heeltyd moet versorg, is dit ook onmoontlik vir haar om te werk.

Marianne is egter baie goed met naaldwerk en as ons lesers kan help met wol of lap sal dit baie waardeer word.

Indien jy kan help kontak Linda Fodor by 076 552 6235.

No comments: