Tuesday, March 30, 2010

‘n Welkome oase in die Karoo

In 1997 was in die Leeu-Gamka omgewing 'n groot projek om indringerbome, veral die prosopis of muskietboom, te verwyder.Een van die gemeenskapsleiers in Leeu-Gamka se woongebied, Bitterwater, Me Letithea Solomons, het die Voorligtingsbosbouer, Mnr Joel Syphus van Kluitjieskraal Kwekery op Wolseley, ernstig aangespreek omdat hier net probleembome verwyder word en daar nie alternatiewe bome in hulle plek geplant word nie.

Toe Mnr Syphus en Me Solomons oor die moontlikheid van 'n depot vir bome op Leeu-Gamka praat, het sy hom na die NG predikant op die dorp, Ds Willem Burger verwys.Die NG Kerkgronde was volgens haar die enigste ruimte waar so-iets op Leeu-Gamka suksesvol gedoen kon word.

Vroeg in 1998 word daar ongeveer 200 klein boompies op die kerkgronde afgelaai.Gou het ons besef dat mense nie net in bome belangstel nie.Ons moes ook struike hier aanhou.Uit skenkings en plantjie verkope is die eerste kweekhuis opgerig.

Wat die vestiging van 'n kwekery op Leeu-Gamka moeiliker gemaak het, is dat dit 'n brakwaterkwekery is.Ons het spoedig uitgevind dat plante beslis nie hou van brakwater op hulle blare nie.Die gevolg is dat ons nie die plante met spreiers kan natmaak nie. Elke plant moet individueel met die hand natgemaak word.Om te kyk watter inheemse bome in ons omgewing aard, het ons bome op 'n oop stuk grond geplant.Huidiglik is meer as 30 verskillende inheemse bome op ons "toetsgrond" geplant.Indien die boom nie op die "toetsgrond" groei nie, sal ons hom nie by die Kwekery verkoop nie.

Kliënte het begin vra na vetplante en middel 2002 het ons ook ons eerste vetplante hier gekry.Dit was gou 'n treffer en mense vanaf die N1 stop spesiaal daarvoor.
‘n Winkelgeboutjie is ook opgerig, waar plaaslike mense hul handgemaakte produkte kan verkoop. Hier is ook ‘n teetuin waar jy rustig kan ontspan, weg van die besige N1 snelweg.

Ek sluit af met 'n aanhaling van Ds Burger:

"As iemand my van 'n singende boom sou vertel, sou ek dit afmaak as maar net nog 'n fabel, 'n slaaptydstorie vir kinders.Net so sou ek die storie van Leeu-Gamka Kwekery en Padstal soos ek dit vandag ken, 12 jaar terug as wensdenkery beskou.

Ek sou dink dat dit iemand is wat kontak met die werklikheid verloor het en nie die realiteite van Leeu-Gamka ken nie. Iemand wat op Leeu-Gamka 'n kwekery begin, sal mos totaal verspot wees - daarvoor is hierdie gemeenskap mos heeltemal te klein.

Tog het hierdie kwekery begin en vandag weet ek dat dit 'n God-storie is - wat hier gebeur het, is nie mensewerk nie.God self het hier 'n pad met ons geloop"

No comments: