Tuesday, March 30, 2010

Sterreprag oor Prince Albert

- Hans Daehne -

Herfs is nou al met duidelike tekens waarneembaar: die langer nagte, die geel blare en die koeler aande. Herfs word ook in die hemel aangedui, want dit is die tyd wanneer ons vir Orion en die Skerpioen tydens dieselfde nag kan waarneem met laasgenoemde wat deur middel van sy giftige steek tot Orion se ondergang aanleiding gee.

Die ware Herfssterrebeeld is egter Leo, die Leeu, die vyfde sterrebeeld van die diereriem en lê dus as sulks op die Ekliptika, tesame met al die planete. Dit is eintlik die helder hoofster, Regulus van Leo, wat presies op die Ekliptika lê en van die planete sien ons die rooierige Mars links van Leo en verder oos is die geelerige Saturnus in die sterrebeeld Virgo, die maagd. Beide Mars en Saturnus word nou algaande dowwer omdat hulle reeds deur hulle opposisietydperk gegaan het, terwyl Venus en Jupiter al helderder sal word.

In April kan mens Venus as helder Aandster in die sterrebeeld Aries, die Ram, net vir `n kort rukkie na sonsondergang vanaf Gordon`s koppie sien en alhoewel sy binnekort al helderder sal word, sal sy nie hoër as 25 grade styg nie, en dus vroeg met die Ram ondergaan.

Mars beweeg vanaf die oop sterrehopie M44 in Cancer na Regulus en al vinniger deur Leo na Virgo en Libra.

Jupiter maak in die middel van die maand sy oggendverskyning in die sterrebeeld Waterdraer en word al groter en helderder in Pisces in die Winter. Om dié rede is dit belangrik dat mens die diere-
riem sterrebeelde ken, sodat die planete met gemak opgespoor kan word.

Saturnus sal vir die volgende twee jaar in Virgo te vinde wees en lyk nog fassinerend op die oomblik met sy ringe feitlik van die kant gesien. Eers teen die einde van die jaar sal die ringvlak weer tot 10 grade oopgedraai wees.

Die ruimtetuig Cassini wat met goeie kameras aan boord om Saturnus wentel, stuur sedert 2004 indrukwekkende foto`s van Saturnus, die ringstelsel en die mane van Saturnus terug aarde toe. Dit het trouens nou nog `n paar nuwe mane ontdek sodat die getal mane wat om Saturnus wentel nou meer as 60 tel.

Die ruimtetuig Cassini het in 2004 die landingstuig Huygens wat hy na Titan, die tweede grootste maan in die sonnestelsel, geabba het op die oppervlakte van Titan laat land. Van die aarde af sou ons glad nie so baie inligting oor ons sonnestelsel kon bekom as dit nie vir die verskillende ruimtetuie was nie.

Giovanni Domenico Cassini was die eerste direkteur van die Paryse Sterrewag en het in 1671 die tweede Saturnusmaan, Japetus, ontdek, asook die Cassini-gaping in die ringstelsel terwyl die astronoom Christian Huygens in 1655 die grootste Saturnusmaan Titan gevind het. Op die wyse word vroeë ontdekkers deesdae nog vereer.

Nuwe Maan is op die 14de April en Volmaan is op die 28ste April. Dit beteken dat tydens die Prince Albert Olyffees die maan in sy amper volmaanfase waargeneem kan word en welliswaar deur `n sterk maanfilter.

Op die oomblik is juis die omgewing van die drie kruise baie pragtig in die suide bokant die Swartberge en die Groot Magellanse Wolk kan nog baie duidelik gesien word. Ander voorwerpe soos die “Wishing Well”, die Juwelekissie en die pragtige bolvormige sterrehopie, Omega Centauri kan ook tydens maanskyn bewonder word.

Hou die sterre in u oë !

No comments: