Tuesday, March 30, 2010

Miernes bars uit alle nate

- Denise Ohlson -

Kinderspeletjies is dit vir Marina Nel om elke dag tot 33 peuters besig te hou met knip en plak en in-kleur en saamwerk. Suiwer vreugde, vertel sy, is dit vir haar as ‘n tweejarige wat ander as “hopeloos” sal afskryf, ná twee jaar van kundige onderrig gereed is om met vertroue na voorskoolse Wildekanisland te promofeer. “Al wat ek in die lewe wil en kan doen, is om met die kindertjies te werk,” sê Marina wat in 1992 haar HOD Junior Primêr behaal het en sedert 2004 die besige Miernes Kleuterskool daar langs Hoёrskool Zwartberg se sportterrein bedryf .

Haar skool bedien die hele gemeenskap se twee- tot vierjariges, en hoewel sy eintlik net ingerig is vir 24 kinders, hanteer sy en haar helper, Lydia Marais, baie dae meer as dertig bedrywige “miertjies”. Dit word duidelik noodsaaklik om uit te brei, maar Marina kry, ten spyte van talle pogings, steeds geen ondersteuning van die munisipaliteit of die staat nie. Min ouers het ook ekstra fondse om by te dra nadat die skoolgeld betaal is.

Sy is Bodo Toelstede oneindig dankbaar vir sy jarelange finansiёle steun en morele onderskraging. Die lugversorger wat Johan Senekal geskenk het en die skrynwerk wat Jan Marais gereeld doen, maak dit vir almal nóg lekkerder by die skool.

En as daar dalk nog ‘n barmhartige Samaritaan verskyn wat wil help plafonne slaan, of wat ‘n bydrae kan maak tot ‘n broodnodige Wendy-huis, of selfs kan kom hand bysit om ‘n ekstra klaskamer aan te bou, sal Marina en Lydia op en af spring van opgewondenheid.

“Ons het soveel oulike kinders hier; daar is soveel goeie werk om te doen, maar die omstandighede raak beklemmend. Veral nadat die skool twee keer onder vandale deurgeloop het, moet ons nou ‘n plan maak om kosbare apparaat en speelgoed te beveilig.”

Die jong vandaliste is gelukkig gou deur die polisie aangekeer en die skade van R800 word geleidelik terugbetaal, maar dit was ‘n onnodige en gevoelige terugslag.

Marina hoop dat die gemeenskap haar elmboё sal sterk en sy nooi almal wat wil kom help uit om te kom kyk na die die fasiliteite - en self te sien hoe die kinders die skool geniet. Maak ‘n afspraak met haar by 079 516 1057.

No comments: