Thursday, January 31, 2008

A dream came true

- De Wet Luttig, Pretoria -

Tydens my onlangse besoek aan Prince Albert, het ek met groot nostalgie teruggedink aan die 160 km wat ek en Nelis Vermeulen op ons bergfietse aangepak het in November 2005.

Ons het halfvyf die oggend vertrek vanaf Klein-Helmuth (ons “damhuisie” agter die dorp se tennisbane) en is trap-trap deur Die Gang (deesdae Prince Albert Valley), oor Kredouwpas, deur Klaarstroom, Meiringspoort , De Rust , Oudemuragie, Schoemanspoort, oor Swartbergpas en terug na Prince Albert.

Ons motiviering? Ons het al verskeie kere vanaf Prince Albert tot bo-op die berg en terug getrap (het selfs eenkeer in Gamkaskloof oornag) maar van die suidekant het ons Swartberg nooit bemeester nie.

Oor die jare het dit ‘n droom geword. Miskien het voorvader Jan Luttig – wat instrumenteel was by die bou van Swartbergpas - iets hiermee te doen gehad!

Op ons tog is ons met vele hoogtepunte beloon: Daar was n klipspringer reg langs die pad en later ‘n reuse bergskilpad wat heen en weer beur teen ‘n lyndraad. Ons kon die natuur waardeer, vars Karoolug inasem en opnuut besef dat God in beheer is .
My dogters, Jana en Margi, het in Meiringspoort hul eerste verskyning in die “ back-up vehicle” gemaak met ‘n oorvloed verversings.

Dit was wonderlike motivering want die Oudemuragie-grondpad was baie meer vermoeiend as wat ons verwag het. Ook Schoemanspoort se lang opdraandes was baie langer as wat ons ooit verwag het. Gelukkig bied die waterstroompie in die Boegoekloof ‘n ideale lafenis. Daar het ek vir die tweede keer in my lewe afgeklouter om kaalbas in die bergwaterpoel af te koel.

Bo-op die berg het ons “back-up” span en ‘n paar belangstellende toeriste ons handeklappend ingewag. Die laaste twintig kilometer bergaf Prince Albert toe was ‘n “breeze”- by Scholtzkloof se afdraai was dit vir ons lekker om drie skilpaaie uit die watersloot te red .

Daardie aand het ons ons uitstappie van nege uur en veertig minute, ‘n trotse gemiddeld van 16,5 kpu, behoorlik afgesluit met skaaptjops, volstruisfillet en Pinotage saam met ou vriende .

Ten slotte: Hoewel ons al langer as veertig jaar nie meer op Prince Albert woon nie, bly hierdie Karoodorp en sy mense “tops”. Elke besoek bly ‘n groot gebeurtenis.

No comments: