Thursday, January 31, 2008

Elizabeth “Baba” Lekay – ‘n Sinvolle Lewe

- Jakoba Visagie -

Gedurende Desember het ons dorp ‘n groot ikoon verloor toe Elizabeth Lekay – by almal bemind en be-kend as Baba – onverwags oorlede is. Sy was ‘n voorvrou in die gemeenskap, iemand wat gelowig en diensbaar gelewe het. Die hele dorp sal haar onthou as brugbouer tussen die gemeenskappe en as energieke werker betrokke by talle organisasies en projekte. Tydens haar begrafnis was die VGK kerk gevul met blomme en kerse, sang en huldeblyke; dit was eerder ‘n viering van haar vol, vervulde en gedenkwaardige lewe as ‘n roudiens.

Elizabeth Lekay, née Lodewyk, is gebore op 4 Oktober 1936 in Rooikamp, Prince Albert, as een van vyf kinders. Toe haar moeder haar op 12-jarige ouderdom ontval, is sy deur haar ouma Sarie grootgemaak. Sy het standerd 6 aan die N G Sendingskool voltooi en wou graag ‘n verpleegster word, maar finansiële druk laat haar as huishulp by verskeie blanke huishoudings inval. By ds De Bruin, een van die Sending-predikante, het sy dit geniet om te help om die drie De Bruin-kinders groot te maak.

Haar jeugjare was gelukkig – daar was ouma Sarie en die familie se oorvloedige liefde, genoeg kos, ‘n lekker gerieflike huis en goeie vriende. Die kerk en Christengemeente was deel van haar alledaagse bestaan – en so het dit gebly tot die dag van haar dood.

Uit haar huwelik met Hendrik Lekay is 10 kinders gebore – agt dogters en twee seuns. Haar verpligtinge teenoor haar gesin het altyd eerste gekom, en ondanks baie tekortkominge, was daar altyd vir elkeen ‘n verjaarsdag- of Kerspresent...

Haar kinders is baie trots om te kan sê dat hul ma styl gehad het: as sy in die openbaar verskyn het, was sy altyd onberispelik netjies en stylvol geklee. Mense het selfs na haar verwys as die Margaret Thatcher van Prince Albert!

Sy was nie net betrokke by die kerk, die hospitaal, Badisa, die Erfeniskomitee, Kansa, Grondeise en die Fransie Pienaar Museum nie, sy het ook ywerig gewerk om haarself en die ouer garde fiks te hou met die “Golden Games”.
Boonop was sy vir meer as vyftig jaar lid van die VGK koor, en ‘n week voor haar dood het sy nog saam met 300 lede van die Ring van Zoar (VGK) ‘n CD in Oudtshoorn opgeneem.

As belangrike nalatenskap het Baba toeriste op haar Rooikamp-stap geneem en haar lewensverhaal vertel. Hierdie verhaal is opgeteken in die boek Prince Albert – Kweekvallei, uitgegee deur die Prince Albert Skrywersgilde. Haar verhaal het ook skilder Christine Thomas geïnspireer om ‘n hele reeks Rooikamp-skilderye te maak wat die lewe in Rooi-kamp en Noord-End uitbeeld. Hoewel Baba en haar familie slagoffers van apartheid was, het sy nooit enige haatgedagtes teenoor blankes gekoester nie. Sy het net altyd gesê dat apartheid baie sleg was omdat dit soveel goeie vriendskappe en goeie verhoudings verwoes het.

Baba laat agter haar man, ses dogters, twee seuns, 28 kleinkinders en twaalf agterkleinkinders.

Huldeblyke

▪ Dawid Rossouw, voormalige burgemeester en voorsitter van BADISA: “Dis met groot respek, waardering en liefde wat ek aan ‘n besondere mens, Elizabeth (Baba) Lekay dink. Die Here seën gemeenskappe met rolspelers wat ‘n verskil kan maak. Sy was so iemand, ‘n kind van die Here, wat haar roeping verstaan het en dienbaar was vir haar geliefde gemeenskap.

Onvermoeid het sy gedien en leiding gegee, altyd met die hoop en geloof dat sy die tydelike wêreld as ‘n beter plek kan nalaat.

Haar liefde vir haar medemens, haar man, huisgesin, vriende en familie was altyd bo verdenking. Haar positiewe ingesteldheid, selfs in die donkerste omstandighede, was vir almal ‘n inspirasie.

Min mense sal daarop kan aanspraak maak dat hulle deur die totale gemeenskap, alle kulture, taalgroepe, oud en jonk, bemin en gerespekteer word.

Sy was in daardie opsig suksesvol omdat sy haarself beskikbaar gestel het, om haar kennis en insig met ander te deel.”

▪ Jannie de Bruin, seun van die sendingpredikant: “Haar naam is Elizabeth en julle noem haar Baba. Ek en my broers het haar geken as Liesbet - en dit is soos ons haar sal onthou....

Die naam Liesbet roep herinneringe terug van iemand wat vir ons lief was en by wie ons sekuriteit gevind het. Want Liesbet was vir ons as kleuters ‘n tweede ma wat ons help versorg het, wat soms ons doeke omgeruil en gebad het, wat ons babakos gevoer het en wat met ons gespeel het. Sy was die een by wie ons troos gevind het as ons hartseer was.

Ons was hartseer toe sy van ons weggegaan het en daar was nooit iemand wat weer haar plek in ons kinderhartjies ingeneem het nie. Ek onthou die Kerskaartjies wat vir baie jare gereeld met die pos gekom het: Van Liesbet”.

▪ Die dorp se biblioteekpersoneel: “Vyftien jaar lank was Baba daar tussen die boeke, personeel en vriende van die biblioteek.

Ons staan eerbiedig en met respek, want “Onse Baba” Lekay was ook ‘n lopende storie. Gaan kyk maar daar in die Fransie Pienaar Museum na die Rooikamp-uitstalling. Sy kon ook dié verhaal vertel.”

▪ Lydia Barrella: “Baba het vir baie jare gedien op die Erfenis-Advieskomitee as die enigste verteenwoordiger van die Noord-End gemeenskap.

Met haar agtergrond en insigte in die gemeenskap het sy waardevolle insette gelewer by vergaderings en sy sal gemis word daaroor.

Sy het vrylik haar eie tyd gebruik om op hierdie komitee te dien, want lede van die komitee ontvang geen vergoeding nie.”

No comments: