Thursday, January 31, 2008

Henna Mostert van die Kloof sterf

- Denise Ohlson -

Sy was ‘n waardige en beminde vrou en daarby ‘n presiese en netjiese mens. Veral was sy iemand met ‘n diepe godsdienssin - iets wat haar haar sterfuur nugter en kalm tegemoet laat gaan het.”

Só het ds Johan Botes van die Groote Kerk in Kaapstad gesê tydens Henna Mostert se begrafnisdiens – wat hy in Prince Albert waargeneem het. Ds Botes het voor Henna grootgeword in die jare toe sy en haar man, Willie Mostert, in die Kaap gewoon het.

Die teks by die geleentheid was 2 Tim 4:6 en 7: “Die tyd van my dood is voor die deur. Ek het die goeie wedloop afgelê ... ek het gelowig enduit volgehou.” Haar twee kinders, Pieter Mostert en Hettie Kok, asook haar kleinkinders, Herman en Elzanne, was almal teenwoordig.

Die Mosterts het altyd sterk bande met die Karoo gehad. Henna en Willie is beide in Gamkaskloof gebore, waar hulle ook skoolgegaan het.

Hulle het egter nie net met die omgewing ‘n sterk band gehad nie, maar hulle ook intiem verweef gevoel met die kerk op Prince Albert. Dit was dus te verstane dat hulle, ná Willie se aftrede, weer in hul wiegdorp sou kom nesskop.

Ds Botes het in sy boodskap onderstreep dat die oorledene ‘n vasberade mens met uithouvermoë was. Die verswakking in haar liggaamskragte ten spyt, sy het haar einde gelowig, waardig en met gesonde realisme tegemoetgegaan. “Dit is só ‘n manier van lewe en sterwe wat juis kwaliteit aan die lewe verleen, en hierin was Henna Mostert ‘n goeie voorbeeld.”.

Johanna Elizabeth Mostert is op 4 Maart 1923 gebore en het op 7 Januarie 2008 gesterf. Die begrafnisdiens is op 11 Januarie 2008 gehou en ‘n familievriend uit die Oos-Kaap, Johan van Eck, het spesiaal na Prins Albert gereis om die orrelbegeleiding te waar te neem.

Die mense van Prince Albert sal Henna Mostert se kraakskoon persoon, mooi tuin, perfekte huishouding en verstommende werkywer onthou. Haar hande het vir alles reggestaan- en sy het haar plek oral en met graagte volgestaan.

No comments: