Thursday, January 31, 2008

Zwartberg spog met drie nuwe onderwysers.

- Ailsa Tudhope -

Hoërskool Zwartberg se skoolhoof Kobus Snyman en onderhoof Danie Rossouw was jare lank die enigste dorings tussen meer as tien rose. Verlede jaar was Anton Nortier die derde doring, en vanjaar is daar nog drie manne.

Chris Gouws is ‘n bekende gesig in Prince Albert en is nou weer terug in die onderwys ná baie jare. Hy was in Bloemfontein adjunkhoof van ‘n skool vir serebraal gestremde kinders.

Hier by Zwartberg sal hy Engels, Natuurwetenskappe, Sosiale Wetenskap en Ekonomiese Bestuurwetenskap vir kinders in die intermediêre fase leer. Chris se dogter, Chrisna Smit, is die skool se Engelse onderwyseres.

Marcus Izaks is uit die Noord-Kaap in Prince Albert om Afrikaans aan te bied. Hy het veertien jaar onderwyservaring en sy laaste pos was by die Katho Hoërskool. Marcus is ook ’n pastoor van die AGS en gaan betrokke wees by die plaaslike gemeente. Ons verwelkom hom en sy vrou Gail in die dorp.

Die derde nuwe gesig is Shaun van der Walt, wat verlede jaar sy prakties hier voltooi het. Shaun is ’n gegradueerde van Noord-Wes Universiteit op Potchefstroom, asook van UNISA waar hy nog Rekeningkunde studeer.

Ons sien uit na ‘n besige en lonende jaar saam met dié vyf dorings tussen die rose in die Zwartberg personeelkamer.

No comments: