Thursday, January 31, 2008

Sterreprag oor Prince Albert

- Hans Daehne -

Die Jaar 2008 snel al weer teen ligspoed voort en ons wens almal voorspoed toe vir die res van die jaar.

In Februarie sal mens wel nog iets van ons Somersterrebeelde te siene kry maar die Lentekonstellasies is reeds op pad. Dit kan mens laataand aan die grote Leo sien wat met die helder Saturn “bo sy maag” pronk.

Hopelik het almal hulle sigsterkte aan die “Sewe Susters” getoets want hulle is pragtig helder met die blote oog en veral sprankelend in `n verkyker te sien. Die “Drie Konings” in ons Somerkonstellasie, Orion, se gordel staan nog so duidelik uit dat mens sommer met `n oogopslag kan sien dat dit nog Somer is, maar dit kom mens in Prince Albert gedurende die dag ook sonder sterre gou-gou agter. Ons het ook die somerwolke in al hulle kleurskakerings geniet.

Dié Drie het terloops pragtige name wat mens in Afrikaans maklik kan onthou, so heet die onderste een (na aanleiding van `n boom wat onder min takke het) Mintaka, die boonste een ( soos `n boom wat bo al die takke het ) Alnitak en die middelste een (wat so te sê tussen sy bure gelamineer is ) Alnilam.

Die drie lê feitlik op die Hemels-ekwator wat `n ekstrapolasie van ons aarde se ekwator na die hemelruim is en bokant hierdie lyn van gordelsterre “hang” die hemelsjagter se jagmes , alles onderstebo vir ons in die Suidelike Halfrond, maar die groot Orionnewel (M42 ) bly vir ons net so pragtig soos van die Noorde af bekyk.

Die rooie Mars vorm `n gelyksydige driehoek met die twee rooi reuse Aldebaran en Betelgeuse links en regs van hom onderskeidelik. Mars beweeg weg van Taurus na Gemini (die twee staan helder uit) op pad na Leo waar ons hom naby Regulus en Saturn sal sien in Julie.

En terwyl ons met meetkunde besig is, kyk of u die gelyksydige Somer-driehoek kan vind wat uit Betelgeuse, Sirius en Procyon opgemaak word, so te sê: die jagter en sy twee honde.

Die Maan is nuut op die 7de en vol op die 21ste.

Mercurius, Venus en Jupiter is almal oggendplanete vir Februarie.

Saturn word nou `n nagobjek in Leo en beweeg vir `n rukkie nader aan die helder hoofster van die Leeu, Regulus.

Die Magellanse Wolke kan nog vir oulaas gesien word bokant die Swartberg voordat hulle plek maak vir die drie kruise om hierdie prestige posisie in te neem.

Hou die sterre in u oë !

No comments: