Saturday, February 27, 2010

Die “Ou Tol” is Oop !

- Denise Ohlson -

Die Ou Tolhuis, geleë op die Swartbergpas, se deure is sedert Januarie oop as Bewaring/Inligtingsentrum van die HOPE Foundation - daar word ook koffie, tee en ligte etes in die “Berg Kombuys” berei.

Die HOPE Foundation, op Oudtshoorn gebaseer as gemeenskaps- en bewaringsorganisasie, het die “Ou Tol” hul basis gemaak en daar gaan verskeie inisiatiewe hier geloots word.

Die lede en borge van die Ou Tol hoop om hierdie Wêrelderfenisgebied en die grootliks onbenutte toerismegeleenthede wat in die Swartberg opgesluit lê, tot voordeel van die Groot en Klein Karoo te ontgin en in die proses sterk ekonomiese geleenthede vir omliggende dorpe, besighede en gemeenskappe te bied.

Sedert 2006 al fokus True South Travel (as ‘n plaaslik geakkrediteerde operateur) op die ontwikkeling van Eko-toerisme binne Cape Nature se bewaringsgebiede en reservate. Plaaslike spesialisgidse word gebruik.

True South Travel beplan om vanaf die Ou Tol begeleide toere na Gamkaskloof aan besoekers te bied, asook staproetes, 4x4 ekskursies en bergfietsritte. Die inrig van piekniekareas en braaigeriewe vir dagbesoekers word ook in die vooruitsig gestel.
Aangesien die omskepping van die Ou Tol met hoë koste gepaard gaan, word ‘n beroep op alle plaaslike inwoners, besighede en belangstellendes gemaak om betrokke te raak deur skenkings en bydraes te maak sodat die Ou Tol so spoedig moontlik ten volle op dreef kan kom.

Vir ‘n volledige uiteensetting van die dienste, toerusting, materiaal en meublement wat benodig word, kan belangstellendes HOPE foundation se webwerf by www.hopefoundation.co.za besoek.

Vir begeleide Eko toere binne die Swartberg en ander Cape Nature bewaringsgebiede, kontak True South Travel (0440700) of besoek hul webtuiste: www.truesouthtravel.co.za.

No comments: