Saturday, February 27, 2010

Prince Albert Primêr se Kinders Presteer

- Linda Fodor -

Prince Albert kan met reg spog met al ons kinders se akademiese prestasies. Selfs al gaan ons leerders na ander skole, hou hulle aan met presteer. Nie net presteer hulle akademies nie, hulle beklee ook leierskapposisies.

Hoërskool Môrester in Oudtshoorn spog met Reginald Griebelaar, nie net het hy onderskeidings in Wiskunde en Lewens-oriëntering gekry nie, hy was ook die top presteerder van die graad 12! As onder-hoofseun, tesourier van die VRL en primarius van die koshuis het hy hom ook as leier bewys. Reginald is tans besig met ‘n graad in siviele ingenieurswese by die Kaapse Skiereiland se Universiteit van Tegnologie.

Die huidige hoofseun by Môrester is Stuart Delport en hy is ook die primarius by die koshuis die jaar. Hy het ook onderskeidings in ses vakke – Afrikaans, Engels, Wiskunde, Fisiese Wetenskap, Lewensoriëtering en Tegnologie: Elektries – behaal en was die top presteerder in graad 11.

Madré Uys het met drie onderskeidings in graad 11 die skoner geslag verteenwoordig.

In graad 10 was Arion Isaks met drie onderskeidings en Sachin Reed met vier onderskeidings die manne op wie ons baie trots is.

Willicia Reed het Prince Albert Primêr aan die einde van graad 7 verlaat. Sy was deurgans ‘n toppresteerder. In 2009 het sy by Colridge Primêr in Oudtshoorn begin. Sy was die voorsitter van die VRL en het aan die einde van graad 8 die toe-kenning vir die beste graad 8 leerder ontvang met ‘n A gemiddelde. Tans is sy by Bridgeton Senior Sekondêr en ons weet sy gaan Prince Albert se naam hoog hou.

Sy volg in die voetspore van Abraidan Farao wat ook deurgans ‘n toppresteerder by Bridgeton was en met baie goeie punte graad 12 geslaag het.

Ons leerders daar vêr in die Kaap by die Kaapse Akademie vir Wetenskap, Wiskunde en Tegnologie presteer ook goed. Joshua Afrika, die 2009 hoofseun, het met onderskeiding in Wiskunde geslaag. Hy is tans besig met studies in ingenieurswese aan die Universiteit van Stellenbosch. Nomsa Afrika is steeds besig met haar studies om ‘n mediese doktor te word en ons sien uit na die gradeplegtigheid!

Attie Lekay, ook by die Kaapse Akademie, het onderskeidings in Wiskunde, Lewenswetenskap en Natuurwetenskap gekry.

Hierdie leerders bewys weereens dat Prince Albert se leerders ons skole verlaat met ‘n soliede fondasie waarop hulle kan voortbou. Hulle is toegewyd en hardwerkend, het dissipline, kreatiweit, talent en die wil om te wen. Met sulke positiewe eienskappe is dit geen wonder dat hulle deur hul mede-leerders en onderwysers verkies word tot leierskapposisies nie.

No comments: