Sunday, August 31, 2008

Herwin is Ons Toekoms

- Denise Ohlson -

Prince Albert kan met reg trots wees op herwinningswerkers Celester Masango, Pieter Schreuders, Jan Deelman, Niklaas van Rensburg en Basie Tolken. Hier is hulle hard aan die sorteer by die nuut ingerigte Herwinningsplaas. Die munisipaliteit het ‘n stewige draadhok opgerig, met skadu-afdakke waaronder die manne sorteerwerk doen. Inwoners sal die werkers grootliks te hulp kom en baie man-ure spaar deur hul herwinbare materiaal by die huis al te skei van onherwinbare vullis – soos uiteengesit op bl 21.

Voltydse werkers Basie Tolken en Josef Delport (met verlof toe die foto geneem is) het opleiding in Oudtshoorn ontvang en hulle is vaardig om die ander manne te help en is besonder entoesiasties oor die projek. Basie sê: “ Ons werk almal baie lekker saam – ons is gelukkig om so in die buitelug te kan werk en ‘n bydrae te maak tot ons dorp se besoedelingsprobleme.”

Baie mense voel dalk dat die uitdagings van besoedeling en aardverwarming só oorweldigend is dat dit ‘n onbegonne taak is om daarteen te probeer wal gooi, maar as elkeen van ons net ons herwinbare papier, karton, blikkies en glas in die sakke uitsit wat die munisipaliteit (gratis) daarvoor beskikbaar stel, sal ons in Prince Albert ‘n navolgbare verskil maak.

Met die eerste besending is 1,438 kg afval verkoop vir R995,25. Die vervoerkoste was R460 – wat ‘n wins van R535,25 opgelewer het! As hierdie projek so suksesvol volgehou gaan word, sal dit nog meer werkgeleenthede skep en Prince Albert sal boonop die geleentheid hê om die “Skoonste dorp”-kompetisie te wen.

Die Vaste Afval Bestuursforum maak verskoning dat die vorige kennisgewing van vergadering belangstellendes nie betyds bereik het nie, maar almal word genooi na die eerskomende vergadering op Woensdag, 10 September, in die Munisipale Raadsaal om 17h00.

No comments: