Sunday, August 31, 2008

Jy is nooit te oud om te leer nie

- Linda Jaquet -

Prince Albert se Onderburgemeester, Magdalena Benjamin, het saam met Dulcie Claassen van Aloe cc ‘n Bewustheidsdag oor Volwasse Geletterdheid amptelik op 13 Augustus geopen. Aloe cc, wat die Onderwysdepartement se program vir Volwasse Onderwys en Opleiding (VOO) in Prince Albert bestuur, het die Bewustheidsdag georganiseer.

Die dag het afgeskop met ‘n sakeontbyt by die Swartberg Hotel, bygewoon deur beamptes van die Wes-Kaap se Departement van Onderwys, Learning Cape (‘n inisiatief wat lewenslange geleerdheid aanmoedig), plaaslike sakelui en kerk- en gemeenskapsleiers.

Aloe cc het ook ‘n loopbaanuitstalling in die VGK se saal georganiseer. Belangstellendes, insluitende ‘n groep Graad 11 leerders van Hoërskool Zwartberg, het die geleentheid benut om studiemoontlikhede en werksgeleenthede met verteenwoordigers van UNISA, Suid-Kaap Kollege en die Departement van Arbeid te bespreek.

Leerders is ingelig dat ‘n ope dag op 5 September by die Suid-Kaap Kollege in Oudtshoorn gehou word wat ‘n toer van die kampus, inligtingsessies en vaardigheidstoetse insluit. Op 6 September kan studente gratis by die Kollege en by ander soortgelyke opleidingskolleges in die Wes-Kaap inskryf.

Die Bewustheidsdag het op ‘n hoë noot beeindig: ‘n aantal trotse Prince Alberters het hulle VOO diplomas na ‘n jaar se harde werk ontvang. Aloe cc het Soedan (‘n land waar onderwys onder meisies tot onlangs redelik beperk was) as die tema van die oorhandigingseremonie gekies. Vroue, aangetrek in tradisionele Soedanese drag, het die saal in ‘n kleurryke towerwêreld verander wat almal teenwoordig aan die gedrag, gewoontes, geloof en ge-skiedenis van die land blootgestel het.

Graad 12 sertifikate is aan Amanda Hoorn, Magdalena Coetzee, Annelise Koorts, Annastatia Andries, Jeffrey Jantjies en Randall Wagenaar toegeken. Sannie April, Eluize Fodor, Agnes Arendse, Spasiena Schreuders, Magrieta Waterboer, Angelique Wanie, Petronella Stalmeester en Sophie Muller het verskeie leerareas as deel van hulle Vlak 4 (Graad 9) studies voltooi. Jakob Willemse het Vlak 4 voltooi en is nou reeds besig met Graad 12. Diplomas in rekenaarstudie (N3) is ook aan Abraham Esua en Anna van Der Horst toegeken.

Magdalena Benjamin se woorde: “Jy is nooit te oud om te leer nie”, is alte waar en sal altyd ‘n aansporing wees vir leergieriges.

No comments: