Sunday, August 31, 2008

Museumnuus: Raar, maar waar…

Elke oggend, so net voor agt, dan kom ek met ‘n spoed in Klipstraat af, draai regs in Bankstraat en links in Kerkstraat, museum toe. Diep ingedagte ry ek nou die oggend by die twee huisies verby wat in aanbou is, en sien die trekker en sleepwa van die Munisipaliteit langs die bouwerk staan.

Die volgende oomblik spring Hendrik Kellerman agter die sleepwa uit, reg voor die bakkie in. Ek skrik my skoon uit my geloof uit, los die stuurwiel en gooi my arms in die lug op. Hy lag lekker en groet my terwyl die bakkie rukkerig by hom verby gaan.

Later dieselfe oggend, kom stop Hendrik met die trekker by die museum en haal iets uit ‘n bruin koevert. Hy sê dat hulle dié omslaggie maande gelede op die ashoop opgetel het en dat hy dit al lankal museum toe wou bring…

Ek vou die karton-omslaggie oop en kom op stokou poskaarte van die Swartbergpas, en ‘n paar foto’s van een of ander feesviering af.

Lydia kom die middag werk, ek wys dit vir haar, want sy werk met die argiefmateriaal. Sy sit by my in die kantoor en ons kyk deur die kaarte en foto’s.

So half gelyk wonder ons hardop uit watter era die fotos sou wees, en sê saam: “Dis so jammer dat mense byna nooit agterop foto’s die gebeure, name of datums neerskryf nie. Nou moet ‘n mens sit en wonder wat, waar, wanneer…” Lydia draai die een foto om, en ons herken onmiddelik Tannie Helena se pragtige handskrif! Opening van ou hospitaal - nou Museum. Marie de Jager (Askop) op vlot. Stom geslaan kyk ons vir mekaar. Tannie Helena sou nooit ooit foto’s wat verband hou met Prince Albert se geskiedenis, weggegooi het nie!

Het hierdie omslaggie met foto’s dalk, op pad museum toe, per ongeluk verlore geraak? Wel, deur ‘n baie eienaardige sameloop van omstandighede het dit tog die pad na die museum gevind. Raar, maar waar…

Museumgroete
Debbie Badenhorst

No comments: