Sunday, August 31, 2008

Skryfster in ons midde

- Denise Ohlson -

Annette Marais woon al 26 jaar op Prince Albert. Hier het sy saam met haar man, Wynand hul twee seuns grootgemaak, Jaco en Daneel, een skoondogter ryker geword, en vele gedigte geskryf.

As dogter van ‘n Afrikaans onderwyser in George – “n báie goeie onderwyser”, beklemtoon Annette – is sy van jongs af aangemoedig om te skryf, maar sy het gehou van voordrag. Tot sy in haar matriekjaar op ‘n dag verhoogvrees kry en, mooi rok en al, nie die gedig St Franciscus van Assisi kon voltooi nie. Toe sy die verhoog druipstert verlaat, het sy klaar besluit: “As ek dan nie kan praat nie, dan skryf ek.”

Op Wellington bekwaam sy haar as laerskoolonderwyseres en sy sou ook bitter graag die Sendingkursus daar wou doen, maar haar loopbaan neem haar na Wittedrif, waar sy ‘n gekombineerde grade-klassie van tien leerlinge het. Dis ‘n plek waar koeie op die netbalbaan verskyn, waar makoue en eende jou straat af volg en ‘n mak skaap by die dominee se voordeur niks snaaks is nie… Daarna gee sy Liggaamsopvoeding op Warrenton en sy beweeg steeds al nader aan haar kerk en die evangelie. Dit is vir haar ‘n groot hoogtepunt toe sy saam met die KJV die sendingvelde van die destydse Rhodesië besoek en ‘n toer na Israel meemaak.

In Knysna gee sy in Engels klas en geniet dit om haar skyfies oor Israel met belangstellendes te deel. Haar volgende pos is in Beaufort-Wes, waar sy byna 40 kinders in haar standerd 2-klas het. Hier is sy baie gelukkig, en dis ook die tyd dat sy Wynand by die KJV ontmoet. Hulle trou, begin met ‘n gesin, en verhuis ‘n dekade of wat later Prince Albert toe.

Soos elke regskape vrou en ma, beleef sy ook maar tye van vertwyfeling, depressie en mismoedigheid – en reik al meer haar hand uit na die pen om die negatiewe weg te skryf. Maar haar pennevrugte gaar sy op in ‘n kas, nie seker dat dit “goed genoeg” is nie. Haar “rymwerk” beskryf sy vandag nog as “nou wel nie waffers nie, maar darem”!

Adri Schoeman is die een wat haar oortuig om van haar werk te publiseer en saam bind hulle in 2006 in afgerolde formaat die Gebede-Gedigte.

In 2007 volg Die Leraart se Vrou: ‘n Vernuwende stukkie prosa wat jou dit plek-plek kliphard en vrolik laat uitlag. Verkwikkend, inderdaad! Annette sê haar skoonsuster Christa en haar vriendin Cotie, albei predikantsvroue, het haar oë oopgemaak vir die lewe in ‘n pastorie en sy het die leraarslewe met humor opgeteken uit die mond van die een wat “die vloere gepolies en later se tyd altyd die matte skoon gesye” het. Wat oor baie van die leraars se vroue wat weg is “gesnik” het, “gehyl” het, en “nie gehyl” het nie. En dan erkentlik getuig: “ Oor die waaroor ek nie gehyl het nie, moes ek my Liewenheer om verskoning vra.”

Vol deemoed verklaar die karakter: “’n Prerekant se vrou moet ‘n mens wees. Sy moet ammal enerster behandel, nes ons Liewenheer. Sy moet met die dokter se kjind praat en ôk met die Fererekjinners – al loop hulle neuste ôk so baie en is hulle so verslons.”

Annette se derde boekie, Lof uit Leed, het pas verskyn en is ‘n vesameling aangrypende geloofsverse. Dit is te koop by die Biblioteek teen R20. Die volgende verse is voorbeelde uit die bundel.

Ook in my
In bos, berg en klip, groen, purper, wit -
In die sagblou van die lug, in ‘n voëltjie se vlug,
In blomme so mooi met reënboogkleure getooi,
In ‘n ster se geflonker in die stik-stik donker,
kom Sy genade na vore -
dis ook in my gebore.

Bede
Dat ek ryk mag wees na gees,
Dat ek mag wandel, onbevrees,
Dat ek mag weet die aardse leed
is slegs ‘n kleine deel van die baie groot geheel
waar geestesrykdom wag –
genesing wat geeneen kan steel.

Annette gee alle dank en eer aan die Here; sy sê dat sy bid voor elke gedig wat sy skryf. Dat Adri haar so gehelp het om haar stof te sorteer en om haar drie boekies die lig te laat sien, is ook net genade. Sy is verheug dat twee verse ook pas opgeneem is in Interaksie – Kwartaallikse Skakelbrief van die Vrouelidmate van die NG Kerk in SA.

Aan inspirasie ontbreek dit Annette verseker nie. Sy oorweeg dit nou om Karakters in die Skrif, ‘n tema wat haar al lankal aanspreek, aan te pak. Vol entoesiasme vertel sy aan die Vriend dat die Verlore Seun haar gunsteling karakter is en dat sy sommer met hom sal begin!

No comments: