Sunday, August 31, 2008

Van die Namibwoestyn tot Rusland tot Rotskuns in die Sederberge

- Denise Ohlson -

Die Prince Albert Kultuur-vereniging is ‘n lewenskragtige organisasie met 'n groeiende getal lede wat elke maand moeite doen om ‘n interessante aktiwiteit aan te bied. In Juliemaand is rolprentversamelaar Japie Gouws genooi om ‘n Afrikaanse film te kom wys. Uit sy versameling van 700 titels, waarvan sowat 150 Afrikaanse films is, het Japie se keuse geval op Jamie Uys se film Dirkie - wat dateer uit 1969. En wás dit ‘n gewilde keuse. Veertig mense het kaartjies gekoop, en al was dit ‘n koue aand, was almal daar toe die eerste klaviernote val en Jamie Uys in die hoofrol verskyn as konsertpianis…

Die mense wat die film by uitreiking gesien het, het dit weer net soveel geniet as diegene wat vir die eerste keer die dramatiese vliegtuigongeluk en die lewenswerklike oorlewingstryd van ‘n eensame figuurtjie in die ontsagwekkende Kalahariwoestyn ervaar het. Die rol van Dirkie is voortreflik gespeel deur Jamie se seun, Wynand Uys. Die wenresep van spanning en humor teen ‘n agtergrond van aangrypende natuurtonele het almal aan die einde spontaan laat hande klap.

Ter afsluiting is die heerlikste sop en geurigste brode saam met tuisgemaakte konfyt bedien en almal het gesellig nabetragting gehou. Juliana Nel was heel opgewonde om die ou Johannnesburg met sy bypassende motors en modes weer te kon sien en Adri Schoeman, nie bekend vir oordadige lofbetuiginge nie, het waardering gehad vir die kwaliteit van die film wat na bykans dertig jaar steeds geloofwaardig en oortuigend was.

Hierdie maand se aktiwiteit het saamgeval met die Kultuurvereniging se Algemene Jaarvergadering. Derek en Christine Thomas het hul onlangse besoek aan Rusland in ‘n pragtige skyfievertoning vir ‘n waarderende gehoor aangebied. Hul deurlopende kommentaar was besonder insiggewend - met Derek se insette as argitek en Christine se kunstenaarsoog het hulle die hartland van Rusland eg aanloklik uitgebeeld. Dié aand is ook afgesluit met ‘n lekker informele ete.

Van 19-21 September kan almal wat die rotskuns belangrik ag, saam met Judy Maguire na Sevilla en Salmansleegte in die Sederberge vertrek om meer te wete te kom van hierdie kultuurerfenis. Judy het ‘n arsenaal van kennis en haar entoesiasme is meesleurend – dit is pure plesier om saam met haar te “toer”. Die Toerismeburo het al die inligting, bespreek vroegtydig – daar is net 18 plekke beskikbaar. Of skakel Judy direk by 023 5411713.

Onthou, dit kos net R30 per jaar om aan te sluit by die Kultuurvereniging – kom word ‘n lid en verryk jou lewe!

Other projects which the Cultural Foundation has initiated are: the Water Indaba, 4th September, an open public information session on water issues affecting the whole community; and the Food Garden project with potential benefits for food security.

No comments: