Sunday, August 31, 2008

“Tolbossies” het natuurlike talent ontgun

- Denise Ohlson -

Wie het die afgelope maand ‘n bakkie sien ry met singende kinders op, elke Maandag- en Dinsdagmiddag, net ná skool?

Dis die sestien leerlinge van Prince Albert Primêr en agt van Hoërskool Zwartberg wat twee maande lank gratis dramaklasse neem by Marijke Coornaert (skilder Philip Willem Badenhorst se vrou) terwyl sy in Prince Albert bly. Die bedoeling is om die kinders die basiese tegnieke van drama te leer, en wanneer Marijke volgende keer kom en vir ’n jaar in Prince Albert gaan bly, wil sy na ’n toneelproduksie toe werk.

Marijke was die laaste vyftien jaar lektrise in Drama aan die Koninklijke Balletschool van Antwerpen en by ’n skool wat spesialiseer in Woordkuns-Drama. As regisseur was sy betrokke by meer as twintig teaterproduksies en drie films.

Marijke sê: “Ek het al baie mooi dinge sien gebeur. Daar is egte, natuurlike talent tussen hierdie kinders. Tolbossies vind ek ‘n mooi naam vir die groep : lewendig, speels en kan-nie-stil-sit-nie. Die verskil met die Belgiese kinders is dat ek hier nie opwarmings-oefeninge moet gee nie, maar eerder konsentrasie-oefeninge.

“Maar ons lag baie, ook as hulle my snaakse Afrikaans soms nie verstaan nie. Sommige noem my ‘Mevrou’, ander ‘Marijke’, maar die grootste klomp sê ‘Roxy.’ Toe ek hulle vra of die naam afgelei is van my fiets met die naam ‘Rocky’ is, skreeu hulle soos een man: ‘Néé... Dis die vrou van die Sewende Laan!’

“Ek voel ek kan ’n bydrae lewer - naas die eensame besigheid van skryf - hier in die pragtige dorp waar ek en Philip so gelukkig is.”

No comments: