Sunday, August 31, 2008

Landbougrond is steeds Landbougrond – Hoogste hof

- Philip de Bruin, Johannesburg -

Landbougrond, soos dit tans in Suid-Afrika bestaan, sal voortaan permanent landbougrond bly.

Dié bevel is Vrydag [25 Julie 2008] deur tien van die elf regters van die konstitusionele hof uitgevaardig. Daarmee is ‘n einde gebring aan ‘n jare lange wipplankryery in die howe oor of daar hoegenaamd nog iets soos landbougrond in Suid-Afrika is, omdat “elke sentimeter grond” in die land tans onder die beheer van munisipaliteite of metrorade is.

Die regsonsekerheid oor die landbougrond het begin toe die maatskappy Wary Holdings in 2004 ‘n stuk grond naby Port Elizabeth aan die maatskappy Stalwo verkoop het.

Later het dit geblyk dat die grond baie meer werd is as die verkoopprys. Wary Holdings het toe aangevoer dat die transaksie met Stalwo nietig is, omdat die grond landbougrond is en die verlof van die minister dus nodig was voordat die transaksie beklink kon word.

Stalwo het op sy beurt aangevoer dat dit nie landbougrond is nie, omdat dit onder die beheer van die Nelson Mandela-metroraad val. Stalwo se argument was dat alle grond in Suid-Afrika ingevolge huidige wette oor plaaslike bestuur onder die beheer van metrorade of munisipale rade val en dat grond wat vroeër as landbougrond bekend gestaan het, dus nou nie meer landbougrond is nie.

Die appèlhof het verlede jaar met Stalwo saamgestem.

Nou het die konstitusionele hof egter beslis dat ‘n bepaling wat in die 1990’s ten tyde van die sogenaamde “oorgangsrade” in die Wet op die Onderverdeling van Landbougrond verskyn het en wat bepaal dat erkende landbougrond as sodanig sal bly voortbestaan totdat die tussentydse munisipale indeling later in die 1990’s verval het, steeds van krag is.

Dit kon nooit die bedoeling van die wetgewer gewees het dat die betrokke bepaling sal verval sodra die destydse tussentydse rade met permanente rade vervang is, is bevind.

Die konstitusionele hof het bevind dat die minister dus inderdaad toestemming moes gegee het vir die Wary-Stalwo-transaksie. Omdat dit nié gedoen is nie, is die transaksie dus nietig.

In die praktyk bring dit mee dat alle landbougrond in die land voortaan landbougrond bly en dat die minister eers moet toestem voordat dit verkoop of andersins vervreem mag word.

Prof Tom Coetzee, regskenner van die Potchefstroomkampus van die Universiteit van Noordwes, het in reaksie op die uitspraak gesê dit is “verstandig en tot voordeel van die Suid-Afrikaanse ekonomie”. Elke land se regering moet landbougrond jaloers beskerm. As die appèlhof se uitspraak deur die konstitusionele hof aanvaar sou word, sou dit meebring dat ontwikkelaars byvoorbeeld van die land se top-landbougrond kon aankoop vir ontwikkelings soos vakansieoorde, hotels en selfs dobbelplekke.

“Suid-Afrika sou dan baie gou sonder voldoende landbougrond gesit het en boere sou nie genoeg kos kon produseer nie. Kos sou uiteindelik ten duurste uit die buiteland ingevoer moes word. Ek meen die uitspraak is tot voordeel van boere, die publiek en veral die land se ekonomie.”

Die berig het eers in Die Burger van 28 Julie 2008 verskyn.

No comments: