Friday, October 30, 2009

Museumnuus

Uit die museum argief

Terwyl ek besig is om die ou dokumente in die museum uit te sorteer kom ek op hierdie mooi en interessante artikel oor die Kweekvallei-besproeiingsraad se geskiedenis af.

Dit is geskryf deur David Luttig, ‘n gesiene inwoner van Prince Albert wie die geskiedenis van die dorp baie goed geken het. Ongelukkig is die artikel nie gedateer nie maar ek skat dat dit ongeveer 30, dalk 40 jaar gelede geskryf is. Oom David soos hy bekend gestaan het, het die National Garage oorkant die hotel in 1944 laat bou en was die eienaar daarvan vir ‘n baie lang tyd. Hy was ‘n seun van Dr Pieter Luttig en ‘n kleinseun van die oorspronklike Samuel P S Luttig. David Luttig is oorlede in 1996.

WATER – die Lewensbron van enige gemeenskap

As dit nie was vir die pragtige, standhoudende stroom vars water vanuit die magtige Swartberge nie, sou hier seker nie ‘n dorp gebore gewees het nie! Hierdie water is NIE die eiendom van enige liggaam of persoon nie. Die Skepper het dit aan Prins Albert en sy mense geskenk om dit reg en nuttig te gebruik. Wat ‘n wonderlike geskenk!

Die gebruik van die water word tans beheer deur die Kweekvallei Besproei-ingsraad wat al ongeveer 40 jaar bestaan. Sedert die stigting van ons dorp was daar ‘n Drie-man-Raad, wat later deur die Munisipaliteit oorgeneem is totdat die huidige Raad gestig is. Hierdie water-skema is nie onder staatsbeheer nie, behalwe sekere voorskrifte en bepalings soos uiteengesit in Kennisgewing 740 van Staatskoerant van 17 November 1972.

Die Raad bestaan uit 9 honorêre lede wat gekies word vir ‘n dienstermyn van 3 jaar, plus ‘n sekretaris deur die Raad aangestel.

Geregistreerde eienaars is geregtig op hulle beurte elke week. Beurte kan of vol of half-stroom wees gedurende die dag of nag. Dit kan 5 minute of 20 uur lank wees of slegs ‘n drinkstraal ook. In ag nemende die voor-afgaande, plus die feit dat die waterbeurt nie geografies opmekaar volg nie bv. ‘n beurt in die bo-dorp mag volg op een in die onderdorp, het die Raad ‘n besonder ingewikkelde tydrooster.

Die Raad is verantwoordelik vir 32 kilometer (d.w.s. 20 myl) slote vanaf die inkeer uit die Dorpsrivier tot by die verskillende punte in die dorp. Aanvanklik toe daar min inwoners in die dorp was, is die water direk uit die rivier op verskillende plekke uitgekeer. Baie kosbare water het weggesyfer in die rivierloop. As gevolg hiervan is eers sementpype gelê vir die hele afstand vanuit die kloof na die dorp. Dit was egter ondoeltreffend as gevolg van lekkasies, verstoppings en worteltoe-groeisels by die nate tussen die pype.

Gedurende die veertigjare het die Raad die pype vervang met ‘n oop sementvoor wat vandag nog gebruik word. Die eerste deel vanaf die kloof tot by die sitkoppie was gebou deur wyle mnr Bêrend Booysen. Kort daarna was die deel vanaf Sitkoppie tot by die huidige Munisipale damme gebou deur mnr M A le Grange (Oom Thys van Huis Kweekvallei) en wyle mnr Christiaan le Roux.

Omdat die water onderdeur die rivier, bo-oor leegtes, onderdeur paaie en deur moeilike plekke gaan, word daar nog gebruik gemaak van pype, brûe en los sementdeksels ten einde die water op sy tyd by sy verskillende bestemmings te besorg. Ysterroosters en sement vanggate op noodsaaklike plekke, help om opdrifsels (van enige aard) skilpaaie, muise, dasse, ens op te vang. ‘n Hartseer feit is dat party inwoners van ons dorp, die bronsloot wat voor hul deur verby loop, gebruik as ‘n afval en vullis-verwyderaar!

Daar word gehoop dat u nou ‘n beter begrip het van wat gedoen was en wat steeds gedoen word, om te sorg vir die lewensbron van ons geliefde dorp.

David Luttig


Museumgroete
Lydia Barella

No comments: