Friday, October 30, 2009

Sterreprag oor Prince Albert

- Hans Daehne -

In November is dit die laaste kans om vertroud te raak met die minder bekende lentekonstellasies soos Pegasus, Andromeda, Aries, Perseus , Aquarius en Pisces, almal nou in die noord-weste.

Dit help om bekende sterreformasies as rigtingwysers te gebruik: so wys die diagonaal van onder links na bo regs in die vierkant van Pegasus na die “ V” van die visse (Pisces ) en die “agterbene” van die vlieënde perd, dui die sterrebeeld Andromeda aan, waar mens bietjie met die verkyker moet soek om die pragtige spiraalgalaksie M31, ons bure in die ruimte op `n afstand van twee-en 'n half miljoen ligjaar te vind.

Alhoewel die Andromedanewel reeds met die blote oog sigbaar is, sal `n verkyker `n mooier aansig gee en selfs in `n teleskoop moet die vergroting nie te hoog wees nie, sodat `n mens die hele oorsig kry oor die galaksie van 150 duisend ligjaarwydte. Dit is dus `n galaksie wat amper twee keer so groot is soos ons eie Melkweg-galaksie. Alle ander spiraalgalaksies, meestal nog groter, is baie verder weg van ons .

Bokant die kop van Pegasus is die sterrebeeld Aquarius te vinde . Aquarius en Pisces is die 11de en 12de sterrebeeld van die diereriem onderskeidelik.

Met Aries, die ram, begin die diereriem,die sterrebeelde wat op die ekliptika lê , maar dit bestaan uit net twee helder sterre en baie verbeelding.

Die tweede sterrebeeld in die diereriem is Taurus, die bul en dit beteken dat die tyd naby is om weer die Sewe Susters (Pleiades) en die rooi oog van die bul (Aldebaran) bokant ons koppe in die nag te sien.

Perseus, alhoewel baie ryk aan mitologie, is net so moeilik om te vind. Op die ou end bly daar net oor om na die goeie ou vertrouelinge te soek soos die Suiderkruis en dit lê nou op sy sy en is later agter die Swartberg versteek. Daarvoor klim die Magellanse wolke nou al hoër en ons is bevoorreg om dit in Prince Albert nog met die blote oog te kan sien. Vir die Kaapenaars of Goutengers is dit lankal nie meer nie moontlik is nie.

Mercurius is al weer `n helder aand-verskynsel, en met `n magnitude van -1.3, amper net so helder soos Sirius, die helderste ster.

Venus met `n helderheid van -3.9 is die helderste oggendobjek net voor sonsopkoms.

Jupiter is met -2.5 baie helder bokant ons koppe en gaan eers vroeg in die oggend onder saam met die sterrebeeld van die Steenbok.

Die Maan is vol op die 2de en nuut op die 16de November en sy tydsregulering word nou so fyn gesny dat daar in Desember twee volmane sal inpas.

Saturn is vir vroeg opstaners te sien in die sterrebeeld Virgo.

Die alombekende somersterrebeeld Orion kom weer op in die Ooste later in die nag wanneer die Skerpioen besig is om onder te gaan . Dit is nadat, volgens die mitologie, die jagter Orion deur die slangdraer, Ophiucus, weer genees is van die dodelike steek van die Skerpioen en nou gereed maak om die Skerpioen in die Weste weer in die aarde te vertrap. `n Skouspel wat net in die lente waargeneem kan word met die omgekeerde volgorde weer in die herfs van elke jaar. Dit gee ook `n verklaring hoekom die medici deesdae nog `n slang om `n staaf as hulle kenteken het.

Hou die sterre in u oë !

No comments: